Geld begin praat in Cosatu

Deel op

Cosatu sal meer as R1 miljoen per maand aan ledegeld moet inboet nadat die sentrale uitvoerende komitee besluit het om Numsa te skors.

Numsa se geraamde bydrae is R1 022 000 per maand uit ‘n affiliasiefooi van R2.92 wat elk van sy nagenoeg 350 000 lede maandeliks betaal. Dit beteken Cosatu kan meer as R12 miljoen jaarliks verloor sonder Numsa.

Cosatu se uitvoerende komitee het Numsa Saterdagoggend met 33 stemme teenoor 24 geskors.

“Numsa het ook R38 000 vir die verteenwoordigerstydskrif betaal,” het Mphumzi Maqungo, tesourier van die National Union of Metalworkers of SA, gesê.

Patric Craven, woordvoerder vir die vakbondfederasie het gesê finansies is een van knelpunte.

Zwelinzima Vavi, het intussen gesê hy kan nie die besluit  verdedig om Numsa te skors nie. Vavi, die vakbond se uitvoerende hoof, is verlede jaar geskors.

Vavi het sy afwesigheid per brief uiteengesit oor waarom hy nie by die naweek se historiese nuuskonferensie opgedaag het nie. Sy weergawe verskil van die amptelike verduideliking.

Vavi het in ‘n brief wat deur die SABC bekom is, gesê die toekoms van die federasie is op die spel. Hy het gesê die federasie stuur op ‘n totale ramp af.

Die skorsing van Numsa en die besluit deur nog sewe filiale om hulle deelname aan Cosatu op te skort, maak Vavi kwesbaar vir optrede deur die komitee.

Volgens ingeligte bronne was NUM vermoedelik Cosatu se grootste finansiële bydraer vóór Marikana.

NUM-lede het egter na die Marikana-slagting in hul honderde by die mededinger-unie Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) aangesluit, en dié vakbond is nou die meerderheidvakbond by Lonmin.

Sewe ander Cosatu-filiale, die Food and Allied Workers Union, die Democratic Nurses Organisation of SA (Denosa), die SA Commercial Clothing and Allied Workers Union (Saccawu), die Communication Workers Union (CWU), die SA State and Allied Workers Union, die Public and Allied Workers Union of SA en die SA Football Players Union ondersteun almal Numsa en het onderneem om die skorsing teen te staan.

Slegs Denosa, CWU en Saccawu dra maandeliks noemenswaardige by tot Cosatu. “Maar indien dié maandelikse bydraes bymekaar getel word, is dit moontlik minstens R3 miljoen per maand, ” het ‘n arbeidskenner gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.