Met twee Grondwethofbeslissings wat dit verbied, het twee miljoen Katalane Sondag in elk geval gaan stem vir onafhanklikheid van Spanje.
Die Spaanse regering het nie aangedui watter regstappe geneem sal word teen Katalaanse leiers nie.
Voorlopige uitslae van die nie-bindende referendum toon dat meer as 80 persent van kiesers die onafhanklikheid van die rykste gebied steun.
Met bykans 90 persent van die stemme reeds getel, is dit duidelik dat onafhanklikeidseise nie ongedaan gemaak sal word nie.
Katalane is moeg om as belastingkoeie gemelk te word, sê hulle.
Vóór die verkiesing vir onafhanklikheid het die Spaanse regering die weermag in Katalonië noordoos-Spanje ontplooi.
Eise vir die soewereniteit van die gebied het in die laaste vyf jaar skerp toegeneem met die ekonomiese krisis en hoë werkloosheid wat Spanje teister.
Spanje het die referendum Dinsdag as ongrondwetlik bestempel nadat die Grondwethof beslis het dat die verkiesing nie gehou mag word nie.
Die Katalane het hulleself nie daaraan gesteur nie. Francesc Homs, ‘n woordvoerder vir die Katalaanse plaaslike regering, het op ‘n nuuskonferensie gesê. “Ons handhaaf ons deelnemende proses. Ons kan dit nie nog duideliker stel nie – en ons doen dit ongeag die gevolge.”
Die Spaanse regering het gesê die “data is nie geldig nie” en het ‘n ondersoek geloods na die “onwettige stemmery” wat hulle beskryf as ‘n “nuttelose gemors”.