Oscar het nie badkamer, Krejcir nie DSTV nie

Deel op

Die departement van Korrektiewe Dienste het berigte ontken dat die Paralimpiese atleet, Oscar Pistorius ‘n spesiale badkamer gaan kry.

Die departement van korrektiewe dienste het Sondag ontken dat daar ʼn spesiale badkamer vir Pistorius gebou word in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria.

“Die beplanning en bou van die badkamer en ander algemene instandhouding deur RC Civils-kontrakteurs het ʼn lang tyd gelede al begin,” het Manelisi Wolela, woordvoerder van die departement, gesê.

“Dit is deel van ʼn drie jaar herstel- en instandhoudingsprogram en was veronderstel om al op 31 Mei 2014 klaar te wees – maande voor Oscar skuldig bevind is.”

Volgens Wolela maak Pistorius van ʼn gemeenskaplike badkamer gebruik. City Press het Sondag berig dat die tronkowerhede alles in hulle mag doen om te verseker dat Pistorius goed versorg word terwyl hy in die tronk is.

City Press het ook berig dat Pistorius na die tronk se B-seksie naby die hospitaalvleuel geskuif is. Die Tsjeggiese voortvlugtige Radovan Krejcir is glo een van Pistorius se bure. Volgens die berig het Krejcir glo sy eie televisie met DSTV in sy sel.

Die owerhede het dit ontken.

Pistorius is van sy vorige sel in die EF-seksie verskuif nadat die selle oorstroom het. Dit was glo die werk van Etienne Kabila, wat verhoorafwagtend is nadat hy glo sy halfbroer pres. Joseph Kabila van die DRK probeer omverwerp het.

Pistorius is op 21 Oktober tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan strafbare manslag skuldig bevind is. Pistorius het sy vriendin, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie 2013 doodgeskiet.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het verlede week sy aansoek om verlof tot appèl ingedien teen Pistorius se skuldigbevinding en vonnis.

Pistorius se regspan het aangedui dat hulle die aansoek gaan teenstaan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.