ANC-alliansie steier onder Numsa se skorsing

Deel op

Cosatu se eenheid en die stabiliteit van die regerende alliansie is ‘n swaar slag toegedien na die uitsetting van Numsa, die vakbondfederasie se grootste vennoot.

Numsa is die naweek by ‘n vergadering van Cosatu se sentrale uitvoerende komitee uit die vakbondfederasie geskors.

Die stap, wat in die vroeë oggendure Saterdag besluit is, plaas die ANC-eenheid ook in gevaar.

Die skorsing volg nadat Numsa besluit het om nie die ANC in vanjaar se verkiesings te steun nie, om werkers van buite die vakbond se tradisionele steunbasis te werf, en ‘n beroep op Cosatu om van die drieparty-alliansie weg te breek.

Cosatu se bondgenote kon egter nie duidelik uitspel wat die implikasies van die federasie se skuif teen Numsa is nie.

Die ANC het intussen ‘n oproep gedoen vir die “beginselvaste eenheid van die werkersklas.”

Sekretaris-generaal Gwede Mantashe het gesê “enige verdeeldheid onderling of tussen van die alliansie-vennote is sleg vir die ANC en die samelewing”.

Een van die gevolge is onder meer dat ander vakbonde wat Numsa ondersteun, ook uit Cosatu sal stap.

Dit sal gebeur as die dominante faksie wat verantwoordelik is vir die besluit, van sekretaris-generaal Zwelinzima Vavi volgende ontslae raak.

Die hoofsekretaris van die mynwerkersvakbond NUM, Frans Baleni het die leierskap van die metaalwerkersvakbond Numsa gevra om binnegevegte te staak en op eenheid onder werkers te fokus.

Baleni het vroeër openlik sy spyt uitgespreek met Numsa se skorsing uit Cosatu.

Numsa se hoofsekretaris, Irvin Jim het dit egter verwerp. Hy het Baleni van skynheiligheid beskuldig en sê hy was onder diegene wat Numsa se skorsing voorgestaan het.

Baleni sê Numsa is die slagoffer van sy eie omstandighede.

Die ANC sal Maandag ‘n nuuskonferensie in Johannesburg hou oor die jongste verwikkelinge.

Die ANC het Numsa se skorsing vroeër as ‘n tragedie bestempel. Die ANC woordvoerder, Zizi Kodwa sê ‘n verswakte en verdeelde Cosatu maak werkers kwesbaar.

Volgens Kodwa sal die ANC aanhou om in gesprek te tree met alle rolspelers.

Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het ook sy kommer oor die skorsing uitgespreek.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.