Brand eis troetelpapegaai

Deel op

‘n Inwoner van Meiringspark is hoogs ontsteld na sy huis af gebrand het en sy geliefde papegaai nie gered kom word nie.

NUUT!

Terwyl die vlamme om hom in ‘n brandende huis opgeslaan het, het Xander Rehbock tevergeefs probeer om Kerneels, ‘n African Grey-papegaai te red, het Record East berig.

Clive Oosthuizen en Marie Rehbock van Erasmus Straat, Meiringspark, was albei by die werk toe die brand Woensdag omstreeks 15:30 ontstaan. ‘n Huishulp het onraad bemerk toe sy by die venster uitkyk en rook by die dak sien uitborrel.

Sy het Xander Rehbock, wat in ‘n huis langsaan vir die matriek-eksamen studeer het, dadelik geroep.“Ek het geweet my neef en sy ouma was nie daar nie. Terwyl my moeder Elize die brandweer ontbied het, het ek na Clive se huis gehardloop. Dit was gesluit en ek het ‘n baksteen by die venster ingegooi om in te gaan, maar die vlamme was te kwaai,” vertel Xander.“

Die vlamme was reeds hoog en ek het die voordeur met ‘n pyp oopgebreek. Ek het Kerneels se draadhok probeer gryp, maar dié was so warm dat ek nie daaraan kon raak nie. Kerneels was toe nog lewendig,” het Xander vertel.

Hy sê dat hy met die verstikkende rookdampe geen ander keuse gehad het as om uit die huis te hardloop nie.“Ek het in die uithardloop twee muurbehangsels gegryp. Twee oorspronklike Maggie Laubscher-skilderye en ander meubelstukke van Clive se ouma wat oor die 100 jaar oud is, is in die see van vlamme vernietig. Die brandweer van Silverton was vinnig op die toneel, maar dis al,” sê Xander.“

Die eerste van die twee brandweerwaens het met ‘n tenk half vol water daar aangekom. Ek weet dit is so, want een van die brandweermense het dit vir my gesê.”

Johnny Klopper van die buurtwag vertel dat hy oor die gemeenskapsradio van die brand gehoor en dadelik soontoe gery het.“

By my aankoms was die eerste brandweerwa daar, maar hulle was beslis nie gereed om die brand te bestry nie. Dit was opvallend hoe doodluiters hulle nader gestap het. Hulle het brandweerslange gehad wat vol gate was,” vertel hy.“

Hulle koppelings was so swak dat die water hemelhoë boë uitgespuit het voordat dit by die punt uitgekom het. Toe hulle agterkom hulle het nie genoeg water nie, het hulle nie eens geweet van die brandweer-koppelpunte in die omgewing nie.”

Klopper sê die brandweer het toe ver gery om water te gaan haal – ten spyte daarvan dat ‘n buurman sy swembad vol water aangebied het.

Klopper het ook ‘n video van die brandweerwaens op die toneel geneem wat toon hoe water by koppelpunte uitspuit en in die inrit van die woning afloop.

Clive Oosthuizen het van sy werkplek in Waltloo huis toe gejaag toe hy van die brand hoor.“

By my aankoms het die brand, wat vermoedelik in my slaapkamer ontstaan het, reeds deur die huis versprei. Ja, daar was onvervangbare skilderye in die huis en duur outydse meubels, maar dit is alles niks as dit by Kerneels kom nie,” sê hy.

“Kerneels was een van my kosbaarste besittings. Hy het gepraat en dit verskriklik geniet as ek saans met hom op my skouer rondloop. Ek is net bly dat my honde buite die huis was. Die mense van Meiringspark en die buurtwag kan ek nie genoeg bedank vir die steun wat hulle ons daar op die toneel aangebied het nie.”

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.