Na afloop van die vergadering van die Afrikaner- Strategiese Komitee in Pretoria op 8 November 2014, het ons ‘n onderhoud met mnr. Andries Breytenbach, voorsitter van die Boere-Afrikanervolksraad oor hul onderhandelings met die ANC-bewind insake selfbeskikking gevoer.
Tot dusver het daar ‘n enkele gesprek met mnr. Cyril Ramaphosa, adjunkleier van die ANC en voorsitter van die nasionale beplanningskommissie gevoer. Die Volksraad het intussen ‘n voorstel opgestel wat binnekort aan die Suid-Afrikaanse regering oorhandig gaan word en waarin hy vra dat beide partye hulle moet verbind tot onderhandelings wat “onherroepelik” tot ‘n eie, soewereine staat vir Afrikaners sal lei.
Indien die ANC-bewind nie hieraan gehoor gee nie, sal onderhandelinge doodloop en sal hy hom weereens tot litigasie wend. Aangesien die Suid-Afrikaanse regering, volgens mnr. Breytenbach, “die addisionele protokol tot die Internasionale konvensie oor burgerlike en politieke regte onderteken het”, sou dit beteken dat die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie uiteindelik uitsluitsel oor die Volksraad se eis vir selfbeskikking sou moes gee.