IVP: E-tol om Sanral uit geldelike verknorsing te red

Deel op

Die Inkatha Vryheidsparty sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se erkenning dat hy finansieel sukkel, is ‘n aanduiding dat die etolstelsel gebruik word om die agentskap uit sy finansiële verknorsing te red.

Die IVP het bevraagteken of die e-tolstelsel daar is om enigsins die lening vir die tolpaaie terug te betaal.

Die IVP-woordvoerder in Gauteng, Bonginkosi Dhlamini sê Sanral se voorlegging gister aan die e-tol-hersieningspaneel dui daarop dat die stelsel daar is om Sanral aan die gang te hou.

Die IVP verwerp die e-tolstelsel en dink ‘n brandstofheffing moet ingestel word.

Luidens ʼn berig in die Business Day van vandag het ʼn woordvoerder van die departement Woensdag voor die e-tol-evalueringspaneel getuig dat e-tolgeld ook gebruik kan word om te help met die instandhouding van die res van die land se paaie waar tans ʼn agterstand van sowat R200 miljard is.

Die parlement is klaarblyklik deur Sanral mislei en Gautengers moet opdok vir die res van die land se paaie.

Die Star het berig dat Sanral Woensdag aan die e-tolhersieningspaneel gesê het die organisasie is bankrot en gewaarsku dat die land groot probleme gaan hê as hy nie die R20 miljard skuld kan afbetaal nie.

Die koerant het voorts berig dat Dipuo Peters, minister van vervoer, Dinsdag aan die paneel gesê het motoriste kan tot R3.65 per liter ekstra vir petrol betaal om die skuld af te betaal.

Sanral sê egter slegs 1% van voertuie op die Suid-Afrikaanse padnetwerk maak van tolpaaie in Gauteng gebruik.

Nazir Alli, uitvoerende hoof van Sanral, het Donderdag aan die e-tolhersieningspaneel in Pretoria gesê 99% van die totale aantal nasionale kilometers wat afgelê word, is nie op dié betrokke padnetwerk nie.

“Gaan ons persone wat nie in Gauteng bly nie, kry om ons te finansier?” het hy gevra.

David Makhura, premier van Gauteng, het die paneel in Julie saamgestel om die ekonomiese en maatskaplike impak van die Gauteng-hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) en die elektroniese tolstelsel om dit te finansier, te ondersoek.

Volgens projeksies deur Sanral sal ‘n bykomende R5.87 teen 2023 by die provinsiale petrolheffing gevoeg moet word om padinstandhouding en uitbreiding te finansier.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.