Rastoilet-herrie oorspoel Louis Trichardt

Deel op

Die bewering dat toilette by ʼn sakeonderneming in Louis Trichardt, Limpopo op grond van ras toegewys word, is ongegrond het die eienaar van die gebou gesê.

“Nee dit is nie waar nie. Daar is nie so iets nie,” het Bennie van der Merwe aan Sapa gesê.

Huurders gebruik hul eie toilette maar lede van die publiek het nie toegang tot huurders se geriewe nie, sê Van der Merwe.

Die Sowetan het Woensdag berig huurders by die Vleissentraal-kantoorblok in die dorp het ʼn vergadering saamgeroep omdat hulle glo aangesê is om aparte toilette te gebruik.

Van der Merwe het gesê van die huurders het sleutels vir die toilette en dat daar sleutels aan die ander huurders voorsien sal word. Rita van Schalkwyk, opsigter van die gebou, het ook die bewerings ontken maar bygevoeg dat een van die toilette vir die bestuurder se gebruik alleenlik is. “Wit en swart werkers gebruik dieselfde toilette. Dit gaan nie oor swart of wit nie.”

Volgens Van Schalkwyk het daar ʼn man by die gebou opgedaag en daarop aangedring om die vroue se toilet te gebruik. Sy het aanvanklik geweier dat die man enige van die toilette gebruik maar het later voorgestel dat hy die manstoilet gebruik. Van Schalkwyk het die man weggewys nadat hy geweier het om die manstoilet te gebruik.

Huurders meen egter dat hulle verneder word. “Daar is vier toilette in die gebou,” het ʼn sakeman, wat anoniem wou bly, aan die koerant gesê. “Een is vir swart vroue, een vir swart mans, een vir wit en bruin vroue, en die laaste een word deur een wit man gebruik. Die toilette is ook altyd gesluit en ons moet die sleutel by ʼn wit vrou aanvra as ons dit wil gebruik.”

Anonieme huurders het by die koerant gekla oor die beweerde rassisme.

Isaac Mangena, woordvoerder van die Menseregtekommissie, het Woensdag in ʼn verklaring gesê die kommissie is bewus van die beweringe en ʼn span is na die dorp gestuur om die bewerings te bevestig. “Indien dit waar is, sal ons dadelik ʼn ondersoek van stapel stuur,” het Mangena gesê.

Mangena het gesê dit is skokkend dat daar steeds 20 jaar ná apartheid gerugte is dat geriewe slegs vir die gebruik van wit mense is. “Ons wil dit graag beklemtoon dat rassisme geen plek in ʼn samelewing soos ons sʼn het nie. ʼn Samelewing wat pas uit jare van staatsondersteunde rassisme kom. Ons moet alles in ons vermoë doen om dit uit te roei,” het hy gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.