Polisie in hul eie vangwa toegesluit deur rowers

Deel op

Drie verdagtes is Dinsdag in hegtenis geneem nadat twee polisiebeamptes in Rabierif in Midrand, Gauteng van hul vuurwapens beroof is en agter in hul eie vangwa opgeland het.

“Die drie verdagtes, tussen 25 en 30 jaar oud, sal binnekort in die Tembisa landdroshof verskyn,” het brig. Neville Malila, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

Hulle sal teregstaan op aanklagte van gewapende roof, kaping, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

“Die verdagtes het twee polisiebeamptes oor middagete genader terwyl hulle by ʼn kosstalletjie gesit het,” het Malila verduidelik. “Die verdagtes het ʼn vuurwapen op die beamptes gerig en hulle wapens afgeneem. Hulle het die beamptes daarna in hul patrollievoertuig toegesluit en met die vuurwapens gevlug.”

Malila sê nog drie verdagtes het opgedaag en hulle het ʼn voertuig gekaap en daarmee gevlug.

“Lede van die gemeenskap het die vangwa oopgemaak en die polisiebeamptes bevry,” het hy gesê. “Die lede het bystand ontbied en die verdagtes is agternagesit.” Die verdagtes het verskeie skote op die polisiebeamptes gevuur voordat hulle beheer verloor het oor hul voertuig. Geen beserings is aangemeld nie.

“Die polisie het drie verdagtes in hegtenis geneem en drie vuurwapens gekonfiskeer,” het Malila bygevoeg. “ʼn Derde vuurwapen word verbind aan ʼn voorval in September 2014 waar daar op Johannesburgse metropolisiebeamptes geskiet is voordat hulle van hul wapens ontneem is.”

Nog verdagtes is op vrye voet.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.