Die politieke skaakspel in Cosatu gaan voort, nadat die staatsdiens-vakbond, Nehawu ‘n beroep op die vakbondfederasie gedoen het om die metaalwerkersvakbond, Numsa uit die federasie te skors.
Nehawu sê as Numsa nie goeie redes kan verskaf hoekom hy deel van Cosatu moet bly nie, moet hy uit.
Nehawu sê hoewel hy nie naïef is oor die gevolge daarvan as Numsa uit Cosatu geskors word nie, sal dit deel van die uitdagings wees wat hanteer moet word.
Numsa en Cosatu is lank reeds haaks oor verskeie beleidskwessies.
Numsa moet Vrydag voor Cosatu se nasionale uitvoerende komitee verskyn om redes te verskaf hoekom hy nie geskors moet word nie.
Numsa het intussen ‘n dringende interdik by die Suid-Gautengse hooggeregshof geliasseer om die belangrike Vrydagvergadering waartydens hulle verwag word om geskors te word, te stop.
Dit is bevestig deur Numsa se Irvin Jim, hoofsekretaris in ‘n onderhoud met die Mail & Guardian.
Numsa het voorheen gevra dat Numsa “chirurgies verwyder” word van Cosatu.