Jong ma ernstig deur G4S-wag aangerand

Deel op

’n Ma van twee jong kinders moes weens angs gehospitaliseer­ word ná sy verlede week na bewering voor FNB se tak in Windhoek-Wes­ deur ’n sekuriteitswag van G4S aangerand is.

Me. Esté Swarts (35) het gister aan Republikein vertel sy is ná ’n stryery oor parkering­ met vier wagte van dié sekuriteitsmaatskappy­ deur die een wag met die vuis in die gesig geslaan. Sy het op die grond geval en vir ’n oomblik haar bewussyn verloor.

Sy beweer ook die wag wat agter die stuur van G4S se voertuig was wat ’n kontantaflewering by dié tak moes doen, het probeer om haar om te ry.

Volgens Swarts het ’n polisieman­ in siviele drag die vermeende aanval aanskou en dit selfs met sy selfoon op video vasgelê. Sy en haar man, Pieter, het daarna ’n klag van poging tot moord, alternatiewelik­ aanranding met die opset om ernstig te beseer, by die polisie ingedien­.

Die Swarts-egpaar, wat as sendelinge­ in Suid-Afrika gewerk het en onlangs na Namibië teruggekee­r het, het intussen met die hulp van FNB die CCTV-videomateriaal­ bekom waarin dele van die onderonsie­ gesien kan word.

Sy vertel sy het verlede Maandagoggend­ drie keer om die blok gery om parkering te kry sodat sy vinnig ’n dokument by dié tak kon aflewer. Uiteindelik het ’n kombi uit ’n parkeerplek reg voor die tak gery en sy het haar voertuig daar geparkeer­.

Die volgende oomblik het ’n afleweringsvoertuig­ van G4S reg agter haar stilgehou met twee sekuriteitswagte­ daarin. “Hulle het vir my geskree ek parkeer op ’n laaisone Ek het gesê ek wil net inhardloop­ en die dokument afgee. Hulle het vir my gesê hulle sal seker maak ek sal nie vandag hier wegry nie. Ek het toe gesê hulle moet my wiele klamp of ander protokol­ volg, maar hulle moet my net nie dreig nie.”

Uiteindelik is sy na binne, waar twee ander wagte van dieselfde maatskappy­ glo die dreigemente voortgesit het. Swarts sê sy het weer verduidelik sy kom net iets afgee.

Hulle het haar aangesê om die aanmeldingsregister­ te teken en sy het toe net haar naam neergeskryf­ omdat sy bang was om haar selfoonnommer­ en ander besonderhede­ te gee.

Uiteindelik het die FNB-werknemer­ by wie sy die dokument­ moes afgee, sy opwagting­ gemaak. “Ek was getraumatisee­r. Ek het vir hom gevra om saam met my uit te stap.”

Die voertuig was steeds reg agter haar voertuig geparkeer. Die bestuurder­ het bly sit toe sy uitkom, maar sy passasier het uitgeklim­. Swarts sê sy het in haar voertuig geklim om weg te ry toe die G4S-voertuig agteruit gery het om vir haar plek te maak, toe sy sien die ander wag neem foto’s van haar en haar voertuig.

Sy het stilgehou en weer uitgeklim­ om hom te vra waarom hy dit doen. Die volgende oomblik het die bestuurder­ van die G4S-voertuig probeer om haar om te ry, maar sy kon gelukkig vinnig genoeg uit sy pad spring.

Swarts sê sy het die ander man gevra wat sy naam is. “Ek het nader gestap om ’n foto van sy identiteitskaart­ op sy lapel te neem en het vir hom gesê ek is nie hul slaansak nie.”

Die volgende oomblik het die man haar aan beide skouers gegryp. “Ek het hom twee keer teen sy skouer geslaan en toe ek my arms laat sak, het die vuishou my teen die gesig getref.”

Mnr. Dries Kannemeyer­, besturende­ direkteur van G4S, het die voorval by navraag bevestig­ en gesê mnr. Henock Ananias, die wag, het op sy beurt ’n klag van aanranding­ teen Swarts ingedien.

Op ’n vraag of die wag steeds in diens is en of G4S ’n tugondersoe­k teen hom aanhangig gemaak het, het hy geantwoord: “Natuurlik is hy in diens. Wat het hy verkeerd gedoen?”

Kannemeyer sê Swarts het die wagte wat geld moes gaan aflewer, verhinder om hul werk te doen. “Hulle sit met geld wat afgelewer­ moet word en pleks dat sy net wegry, neem sy foto’s van ons wagte in uniform.”

Op die vraag of hy bewus is daarvan dat Swarts geval en haar bewussyn verloor het, het hy geantwoord­: “Not te dêm . . . ek dra geen kennis daarvan nie.”

Volgens hom het hy wel foto’s gesien van hoe sy ná die beweerde­ aanranding gelyk het, “want sy het dit oral op Facebook geplaas”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.