Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het nie ʼn veiligheidswag aangerand of ʼn vuurwapen op hom gerig nie, het die party Maandag gesê.
Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, het gesê die openbare mening het Malema egter reeds “skuldig bevind” en probeer hom “intimideer”.
Volgens die polisie in Limpopo word drie aanklagte teen Malema ondersoek na ʼn beweerde konfrontasie met ʼn veiligheidswag. “Malema word ondersoek vir die rig van ʼn vuurwapen, aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging,” het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, gesê.
Malema het glo in ʼn argument betrokke geraak met ʼn veiligheidswag by die Peter Mokaba-stadion tydens ‘n rielsaamtrek in Polokwane waarna hy glo ʼn vuurwapen op die veiligheidswag gerig het.
“Malema en sy lyfwagte het glo die stadion probeer verlaat deur ʼn hek wat nie as ʼn uitgang gebruik word nie. Hulle het glo in ʼn argument met die veiligheidswag betrokke geraak waarna Malema glo ʼn vuurwapen op die veiligheidswag gerig het.”
Volgens Otto het hulle die veiligheidswag glo teen die hek vasgedruk. Hulle het die hek glo oop forseer en dit in die proses beskadig.
ʼn Klag van aanranding is ook vroeër teen Malema ingedien na ʼn voorval by ʼn kitskosrestaurant in Tzaneen wat op kringtelevisiekamera vasgelê is. Malema het glo ʼn man rondgestamp en gevloek.