Swak bouwerk veroorsaak Majuba-krisis

Deel op

Die ineenstorting van ʼn steenkoolsilo by Eskom se Majuba-kragstasie in Mpumalanga Saterdag, is glo te wyte aan swak bouwerk.

Die kragstasie is na 1994 gebou.

‘n Energiekenner, Chris Yelland, het vroeër gesê die slordige bouwerk het tot die kragkrisis gelei.

Yelland het gewaarsku dat nog sulke onvoorsiene voorvalle die land in ‘n ernstige krisis kan dompel. Yelland sê die silo behoort nie ineen te gestort het nie omdat dit basies bestaan uit staal en beton.

Die silo wat tonne steenkool berg, het verlede naweek begin kraak en daarna ineengestort.

Dié ineenstorting het tot gevolg gehad dat die kragreus inderhaas ʼn noodbeurtkragskedule aangekondig het.

Tsheido Matone, Eskom se uitvoerende hoof, het Sondag tydens ʼn perskonferensie in Johannesburg gesê die steenkoolsilo is in September verlede jaar geïnspekteer en daar was geen ooglopende tekens van verval nie.

Volgens Matona sal ʼn verdere ondersoek na die voorval plaasvind. Die ondersoek sal na verwagting sowat drie maande duur.

“Tydens die laaste inspeksie is daar bevind dat die struktuur in ʼn goeie toestand was,” het Matone by die konferensie gesê. “Die risikokategorisering is tydens die inspeksie as laag geklassifiseer.”

Eskom is sedert Januarie bewus van strukturele probleme met die silo, nadat Eskom resonansies van die silo opgetel het wat toenemende vibrasietekens van agteruitgang getoon het.

Drie weke voor die ineenstorting, is vasgestel dat die vibrasie van die betonstruktuur verder vererger het, wat dui op Eskom se nalatigheid om die kwessie aan te spreek.

Eskom het intussen steenkooltoevoer na die eenhede herstel nadat ʼn vervoerband weens die ineenstorting beskadig is.

Eskom het Maandag aangekondig dat toevoer na twee van die eenhede herstel is.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.