Die ekonoom Mike Schüssler sê die huidige ronde van beurtkrag sal ‘n ernstige uitwerking op die Suid-Afrikaanse ekonomie hê.
Eskom het aangekondig dat beurtkrag regdeur die land hierdie week sal geld.
Dié stap is geneem nadat ‘n silo wat tonne steenkool bevat, gekraak het en voorrade aan al ses eenhede van die Majuba-kragstasie in Mpumalanga geraak is.
Die kragstasie voorsien 10% van elektrisiteitkapasiteit.
Schüssler sê terwyl huishoudings ook verontrief sal word, gaan swaar nywerhede en klein besighede die hardste getref wees.
Hy sê hulle vra elke besigheid om terug te sny op hul kragverbruik wat weer in die vervaardigingsuitset weerspieël sal word.
Dit sal matriekeksamens waarskynlik raak sowel as verkeersvloei met baie verkeersligte wat buite werking sal wees.
“Dit kom op die ergste tyd vir ons net wanneer ons pas opgetel het vir ‘n herstel,” het hy bygevoeg.
Intussen het Andrew Etzinger, Eskom se woordvoerder verwys na die beurtkrag-skedule sodat inwoners hul beplanning kan aanpas.
Die skedule is beskikbaar by loadshedding.eskom.co.za. Mense kan ook die oproepsentrum by 0860037566 skakel.