SA wag steeds vir kerkramp-oorskot

Deel op

Suid-Afrikaners wag steeds dat die liggame van diegene wat in die kerkgebouramp in Lagos in Nigerië dood is, na Suid-Afrika teruggebring word.

Daar het glo 85 Suid-Afrikaners omgekom in die ramp by die Synagogue Church of All Nations toe ‘n multi-verdieping gastehuis verbonde aan die kerk, van die Nigeriese prediker TB Joshua, ineengestort het in Lagos op 12 September.

Daar is toenemende diplomatieke spanning tussen Suid-Afrika en Nigerië oor die kwessie.

Daar is bewerings dat Nigerië die proses dalk doelbewus vertraag.

TB Joshua het onlangs geld aan die slagoffers belowe.

Die minister in die Presidensie Jeff Radebe het intussen aangekondig dat DNS-monsters van die 116 slagoffers by ‘n laboratorium in Suid-Afrika vir ontleding aangekom het.

Die DNS-proses is in die hande van die Nigeriese owerhede, wat ‘n laboratorium in Stellenbosch, Wes-Kaap aangestel het om die ontleding te doen.

Die hoof mediese ondersoeker van Lagosstaat het verlede week gesê die nadoodse ondersoek toon dat ‘n ontploffing nie die oorsaak van dood kan wees nie.

Die verminkte liggame toon eerder tekens van ‘n gebou wat ineengestort het.

“Liggame is vermink, met kopbeserings, gebreekte bene, gebreekte ribbes,” sê professor Obafunwa wat die geregtelike doodsondersoek behartig het.

Die “Profeet” TB Joshua het beweer dat sabotasie, moontlik ‘n vliegtuig wat laag oor die gastehuis gevlieg het, die oorsaak van die ongeluk was.

‘n Oorlewende van die ramp, Anthony van der Byl, het gesê hy is egter oortuig dat die ineenstorting geen ongeluk was nie en maar ‘n terreur-aanval.

“Daar was ‘n groot vliegtuig wat oor die gebou ‘n paar keer gevlieg het voor die voorval en is na die ineenstorting nie weer gesien nie. Ek is in die konstruksiebedryf en as ‘n iets padgee, dan sal die gebou nie so in duie stort op die manier waarop dit gebeur het nie. Op sommige video-opnames kan jy ‘n ontploffing voor die ineenstorting sien.”

Maar bou-inspekteurs in Nigerië het gesê die mees waarskynlike oorsaak van die tragedie is die toevoeging van ekstra verdiepings sonder om die fondamente te versterk.

Die Minister vir Vroue en Kinders in die Presidensie, Susan Shabangu, sê hulle wag nog dat Abuja toestemming gee om die liggame terug te bring.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.