Taakspan sal glo onderwyspos-bedrog oopvlek

Die Departement van Basiese Onderwys het bekend gemaak dat ‘n taakspan begin het om die beweerde verkoop van onderwysposte te ondersoek.

‘n Woordvoerder van die Departement, Elijah Mhlanga, sê verskeie onderhoude is reeds gevoer, het RSG berig.

Minister Angie Motshekga het die span op die been gebring na talle gerugte dat amptenare, insluitende van vakbonde, poste verkoop.

Die span se opdrag is in Junie gefinaliseer. Die duur van die ondersoek sal bepaal word nadat die omvang van die probleem vasgestel is. ‘n Verslag sal daarna aan die Minister voorgelê word.

Vroeër vanjaar het gerugte die ronde gedoen dat lede van die vakbond SADOU poste vir hoofde- en adjunkhoofde vir soveel as R30 000 elk verkoop het.

SADOU het herhaaldelik enige betrokkenheid daarby ontken.

Die vakbond se sekretaris-generaal, Mugwena Maluleke, het gesê individue wat SADOU se naam misbruik, was betrokke by die bedrogspul.

Die Nasionale Kongres van Skoolbestuursliggame het in Mei vanjaar gesê hy is van mening dat verskeie vakbonde by die beweerde poste-bedrogspul betrokke kan wees.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.