Resep vir Afrikanerherlewing

Deel op

In ‘n Afrikanerherlewing speel innerlike of geestelike/nie-tasbare sake sekerlik die deurslaggewende rol, bv bewustheid van ons geskiedenis, kultuur en identiteit; die durf of wil tot handhawing; om op te staan en nie vertrap of verswelg te word nie. In hierdie skrywe gaan ek my aandag egter beperk tot uiterlike of materiële/konkrete aspekte waarmee uitdrukking aan die Afrikaner se innerlike oortuiging gegee kan word. Dit herinner aan DF Malan se oproep dat almal moet verenig wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort. Die resultaat kan ‘n groot koelteboom vir Afrikanervryheid wees.

1. Benaming

Thabo Mbeki het ‘n Afrika-renaissance bepleit. Dit is ‘n misplaaste benaming, want Mbeki het (tevergeefs) gehoop op ‘n eerste lewing/lewekry en nie op ‘n tweede lewing of ‘n verdere herlewing nie. Vir die Afrikanerherlewing behoort ons tereg van die begin af en deurgaans die term “herlewing” te gebruik, want dit is ‘n verskynsel wat hom nie die eerste keer nie maar wéér voordoen. “Herlewing” is in Afrikaans ook makliker verstaanbaar as die vreemd-klinkende “renaissance”. “Afrikanerherlewing” kan verkort word tot AHE en uitgespreek word as AHÉ/AHÊ en selfs as AHA (Afrikanerhandhawing). ‘n Verkorting kan praktiese (bv slagspreuk-) voordele hê.

2. Taal

Afrikaners het die voordeel dat hulle reeds ‘n eie taal, Standaardafrikaans, het. Al wat moontlik moet verander, is die benaming “Afrikaans” omdat dit aan die naam van ‘n kontinent gekoppel is wat in baie opsigte kultureel vreemd of onaanvaarbaar is. Dieselfde geld die benaming “Afrikaner”; ook “Suid-Afrika” as die naam vir die Boere-tuisland.

3. Simbool

Afrikaners kan nie ‘n hut, konka of minibus as simbool gebruik nie. Eerder ‘n hartbeeshuisie (of ‘n huis met ‘n Kaaps-Hollandse geuwel), ossewa of jukskei. In Spanje gebruik die Baske die eikeboom as simbool van hulle vryheidstrewe (Praag 25 Mei). Afrikaners kan Totius se doringboompie as simbool benut. Hierdie boompie is ‘n kanniedood wat van byna dood tot onuitwisbaar getransformeer is. Een van die strofes in Totius se gedig, “Vergewe en vergeet”, lui soos volg:

Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom

4. Leuse

Daar is baie moontlikhede: “Benut die werklikheid”, “Keer die verraad om”, “Weer die bose”, “Moenie jou laat ronddonder nie”. Die ideaal is ‘n kort, positiewe, aksiebelaaide leuse wat algemeen byval vind, soos “Skep ‘n beter toekoms”.

5. Vlag

Volke wat na onafhanklikheid streef, soos die Baske, Kataloniërs en Skotte, het ‘n eie vlag wat verskil van dié van die land (Spanje, Brittanje) waarvan hulle deel is. Die simbool (item 3 hierbo) kan op die vlag wees. ‘n Vlag moet maklik herkenbaar wees en verkieslik uitmunt in eenvoud; dus nie verwarrend wees nie. Dit moet ook anders as bestaande amptelike vlae lyk. Die huidige landsvlag is vir baie Afrikaners onaanvaarbaar. Afrikaners het ‘n broertjie dood aan ongesofistikeerde kleurrykheid. Die vorige landsvlag mag ook nie in die openbaar vertoon word sonder om ‘n herrie te veroorsaak nie. Ons moet dus nuut hieroor besin. ‘n Eenkleurige, skoon, wit vlag sal nie deug nie, want dit word met die roemlose daad van oorgawe geassosieer. Dit is presies wat FW de Klerk en ‘n klein groepie Nasionale Party-kornuite alle blankes mandaadloos aangedoen het.

6. Identifiseringsknopie

Die Ierse republikeine dra ‘n lapelknopie, die fáinne, ‘n goue of silwer sirkel, om aan te dui dat hulle voorstanders van die Ierse taal is. Dit kan ook as ‘n oorbel gebruik word; verkieslik net deur vroue. Op hierdie manier identifiseer diegene wat kultureel bymekaar hoort hulleself. Dit lyk vir my baie prakties om op ‘n soortgelyke manier uitdrukking aan Afrikaners se strewe na selfbeskikking te gee en die momentum daarvan aan te wakker. Ons fáinne kan die vorm aanneem van ‘n jukskei of ‘n dolos (soos dié waarmee die Voortrekkerkinders gespeel het, of die soort wat weerstand teen die gety bied).

7. Spandoek

By die optredes, optogte en ander byeenkomste van politieke, sport- en ander groepe is spandoeke gewild, veral as geweet word dat die gebeurtenis televisiedekking geniet. Op die spandoek van Afrikanerherlewing kan hierdie benaming en die bogenoemde simbool, leuse en vlag verskyn.

8. Handgebaar

Die vredesikoom Nelson Mandela het graag sy gebalde vuis in die lug rondgeswaai. Daarteenoor is PW Botha verguis as hy veel onskadeliker sy wysvinger gebruik het om iets te beklemtoon. Winston Churchill was bekend vir sy V- of oorwinningsteken tydens die Tweede Wêreldoorlog. Wat Afrikaners nodig het, is ‘n eenvoudige teken, maar om die middelvinger te wys sal nie oral byval vind nie. Dalk moet ons volstaan met duim in die lug om iets positiefs aan te dui en duim na onder vir iets waaroor ons negatief voel.

9. Volkslied

In polities linkse geledere word daar deesdae voorgegee dat die vorige Suid-Afrikaanse volkslied, Die Stem, in die openbaar net so onwelkom soos die vorige landsvlag is. ‘n Populêre Afrikanerlied kan ‘n onherstelbare bres in die heersende slaafmentaliteit slaan. Dink maar aan hoe vreesbevange ANC-elemente gereageer het toe Bok van Blerk se De la Rey-liedjie gewild was. Pleks van ‘n volkslied (wat later nodig sal wees) het Afrikaners tans veel eerder behoefte aan inspirasie, oftewel ‘n strydlied. Praaglesers sal sekerlik maklik kan verbeter op ‘n beskeie en haastige poging soos die volgende. Kom ons gee vir iemand, soos Steve Hofmeyr, nog iets om te sing.

Herlewingslied

Ons mense het in drie skepe geland
om beskawing in ‘n donker kontinent te plant

Die vryburgers het suksesvol geboer
al moes hulle hulle goed beveilig met die roer

Duitser, Geus en Hugenoot het gevind
daar is ‘n taal wat hulle in hul harte saambind

Met osse en waens het hulle getrek
selfs baie verder as wat die land se grense strek

Ons pleeg nie misdaad, brand nie bande nie
ons werk en laat leef, maak sekerlik nooit skande nie

Ons is behoudend, standvastig, getrou
sal verseker opstaan en ‘n beter toekoms bou

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.