Ons kort ‘n neoreaksionêre beweging in die kunste

Deel op

Vanoggend word ek vieruur wakker en dink aan daardie roman wat ek al lankal wou skryf oor ‘n taamlik geleerde blanke boemelaar wat in Johannesburg se strate rondswerf. Of liewer, hy gebruik sy skeppende vermoëns en sy vindingrykheid om sonder enige inkomste hoegenaamd homself te klee, te voed, terwyl hy oor geen vaste adres beskik nie.

roodt_fbfotoOm te boemel kan ook ‘n metafoor word vir die toestand van die Afrikaner in Suid-Afrika. Alles in ag genome, as jy elke polities korrekte uitspraak oorweeg – vanaf Malema en die EFF se bewerings dat die boere hul grond “gesteel het” tot by Adriaan Basson van Beeld se veldtog teen Steve Hofmeyr se “rassisme” – is die Afrikaner wesentlik nie meer deel van Suid-Afrika nie. Op straat, in ons huise en op plase, boemel ons net soos daardie onwelriekende, alkoholiese wit mans wat ek op my eerste besoek aan Frankryk in die moltreintstasies ontdek het. In die ou Suid-Afrika was blanke boemelaars, karwagte en bedelaars by die verkeersligte haas onbekend. Ek sou sê dit was feitlik onvoorstelbaar – soos baie dinge wat deesdae gebeur.

Vanaf ingenieur, professor of operasanger, het die Afrikaner nou verval tot boemelaar. Hoe laag het ons nie gedaal nie! Hoe het dit gebeur? Waar het die verrotting, die gangreen – die “kouevuur” soos een van die taamlik tragiese Breyten Breytenbach se digbundels heet – begin? Ek sou sê dit had sy aanvang in die kunste. Want toe die Afrikaner in die 1960’s ryk word, word hy dekadent. Of liewer, die skrywers, die kunstenaars, die akademici – ‘n parasitiese klas wat destyds rojaal deur die staat onderhou is – het eerste dekadent en siek geraak. Van daar af het dit soos ‘n seksueel oordraagbare siekte na die politici en die koerantmanne versprei.

Mense soos André P. Brink kon soggens laatslaap en ‘n halfuur voor hy ‘n lesing te Rhodes op Grahamstad moes lewer, opstaan en met nat hare voor sy studente gaan poseer. Van agter sy swartraambril kon hy die jaar se oes vrouestudente beloer, waarvan vele tot sy harem toegelaat sou word. Sommige sou in sy boeke verewig word, “voor hy vergeet”. Verwoerd was die laaste politikus wat die groot prentjie kon raaksien; vandaar dus sy subtiele dog snydende kritiek op Van Wyk Louw se drama tydens sy beroemde Republiekdagtoespraak van 31 Mei 1966, wat ‘n hele fladdering in die hoenderhok veroorsaak het. Veral daardie hoenderhok waar libvertraagde, Bloedsap-, half-Engelse “skrywers”/akademici soos André P. Brink en ander op die gewone Afrikaner se sukses en ywer geteer het.

En natuurlik was Brittanje en Fleetstraat altyd daar om enige Afrikanerverraaier of -ondermyner op te hemel. Met die Rand Daily Mail wat agterna, in volmaakte Londense nabootsing, kef. En vandag stem die Afrikanerzombies en masse vir die joernaliste van die Rand Daily Mail!

My onlangse eboek in die Rooitaal het (nog nie) die opskudding veroorsaak waarop ek gereken het nie. Die hoop beskaam egter nie. Vroeër of later sal die boodskap wat daarin vervat is, dat die Engelse identiteit in Suid-Afrika nabootsend van aard is, wel na bo borrel. En natuurlik was die hele “moderne” of “verligte” of “liberale” letterkunde-“beweging” in Afrikaans net so ‘n spul na-apery! Op enkele uitsonderinge na, waar die werklikheid as’t ware soos ‘n ongenooide gas in sekere Afrikaanse boeke of produksies opgedaag het, is iets oorspronkliks met ‘n bietjie waarde geskep.

Nie verniet nie, was Van Wyk Louw in sy aanmoediging van “vernuwing in die prosa” destyds bevrees vir die “jong Sestigerskrywers” se onvermoë om Afrikaans te skryf. Eers het Afrikaans vertaalde Engels geword en toe sommer kreools. Terwyl die oppervlakkigheid en politieke korrektheid hand oor hand toeneem.

Dis nogal ironies dat ons voortbestaan vandag van sangers afhang. Tussen Bok van Blerk en Steve Hofmeyr het ons in ons ellendige boemelaarskap iets van ons selfrespek teruggekry. De la Rey, De la Rey…

My grootste vrees is dat daar iets met Steve Hofmeyr kan gebeur; besef ons watter waardevolle rol hy vandag speel? Ons is verraai, verloën, verlaat. Onder die meer bekende openbare figure is Steve die enigste wat bereid is om politieke korrektheid uit te daag. Hy herinner Suid-Afrika daaraan dat diegene wat hierdie land as eertydse nywerheidstaat tot stand gebring het, vandag soos stiefkinders (of boemelaars, wit plakkers) behandel word. Daarvoor word hy deur Beeld se keffers – sjoe, hoe dubbelsinnig klink daardie woord nie nou nie – verguis. Want hulle is keffers, selfs naturelle – Britse naturelle – wat slegs op die volgende bevel of suggestie vanuit Londen reageer. Londen is die hoofstad van politieke korrektheid en selfs die jammerlike Amerikaanse weergawe daarvan geskied in nabootsing van Engeland.

Vandaar dus hierdie oproep tot ‘n neoreaksionêre beweging in die kunste. Ons beskik reeds oor neoreaksionêre sangers soos Steve Hofmeyr en Bok van Blerk wat nie huiwer om ‘n vervloë, patriotiese toon aan te hef nie.

In my vorige stuk oor die Donker Verligting het ek nagelaat om te noem dat Mencius Moldbug, een van die woernaalskrywers wat onlangs dié term begin bevorder het, dit ook as “neoreaksionêr” beskryf. ‘n Klompie jare gelede het die mees vertaalde eietydse Franse skrywer, Michel Houellebecq, hom insgelyks as ‘n “neoreaksionêr” gedefinieer. Tot my skande was ek egter nie daarvan bewus dat “neoreaksionêr” ‘n baie ou term uit die Franse geskiedenis verteenwoordig nie! Eers toe ek Moldbug se woernaal A gentle introduction to Unqualified Reservations begin lees, het ek dit besef. Berge val op my, vlaktes bedek my: ek het dit nie geweet nie!

Die (neo-)reaksionêre denkers was histories diegene wat die ou orde, wat op Frans die ancien régime heet, ná die revolusie wou herstel. In weerwil van die romantiese en polities korrekte, “demokratiese” inkleding daarvan, was die Franse revolusie een van die mees rampspoedige gebeure in die geskiedenis en ek sou sê plaasmoorde is maar net die jongste uitwas daarvan.

As mens dit op Frans google, kom jy op die volgende Wikipedia-definisie af:

Le néo-réactionnisme ou néoréactionnisme est un courant de pensée politique d’origine française apparu au début du XXIe siècle et pouvant être défini comme une version réactualisée et radicalisée du libéral-conservatisme.

[Overgezet synde: Die neo-reaksionisme of neoreaksionisme is ‘n denkrigting van Franse oorsprong wat aan die begin van die 21ste eeu verskyn het en as ‘n bygewerkte en geradikaliseerde weergawe van liberaal-konserwatisme omskryf kan word.]

Ook Steve Hofmeyr, die mees sigbare neoreaksionêr in Suid-Afrika, beroep hom soms op ‘n terugkeer na klassieke liberalisme, spraakvryheid en soos hy dit gister op Twitter stel, “ware nie-rassigheid”:

Mencius Moldbug is blykbaar ‘n leser van Joseph de Maistre (1 April 1753 – 26 Februarie 1821), een van die vernaamste klassieke reaksionêre wat die monargie in Frankryk herstel wou sien. Hy het ook hiërargiese samelewings verdedig en het gemeen dat gesag nie op enige rasionale argument mag berus nie, iets wat tot geweld en wanorde sou lei. (Ervaar ons nie presies dít vandag in Suid-Afrika, met sy oënskynlik rasionele “demokrasie” en “wonderlike grondwet” nie?) Waarskynlik is latere denkers soos Nietzsche of Carl Schmitt insgelyks deur De Maistre beïnvloed. Danie Goosen met sy pleidooie vir gemeenskap en tradisie maak ook sulke geluide.

Oor hïerargie in die politiek is daar sekerlik veel te sê. Onderliggend aan die welslae van die ou Suid-Afrika was ‘n bepaalde hiërargie wat oor eeue heen tot stand gekom het. Soos Steve Hofmeyr vandeesweek getwiet het, het swartmense daartoe ingestem en was dus ten minste “mede-argitekte van apartheid”. Die ou ZAR het nie territoriaal uitgebrei omdat Paul Kruger ‘n kolonialis was nie, maar omdat die swakker swart stamme hulle onder die beskutting van die Afrikanerstaat wou inlyf! “Apartheid” of die hiërargie van blanke regering oor swart stamme, het dus gespruit uit die swartman se behoefte aan wet en orde en veral beskerming teen die geweld van sy swart teenstanders.

Waaroor dit egter hier gaan, is neoreaksionisme in die kunste: musiek, letterkunde, teater, beeldende kuns. Polities en militêr is ons deur De Klerk-groepering magteloos gestel, maar ons kan nog steeds sing, skryf, skep. Hoewel, as ons dit nie begin doen nie, gaan die kruipende sensuur van politieke korrektheid ons in elk geval van daardie vryheid óók ontneem!

Namate sensuur toeneem, sal so ‘n neoreaksionêre beweging in ‘n sekere mate ook ‘n samisjdatbeweging moet wees, ‘n e-samisjdat. Eintlik gebeur dit reeds. Indien dit nie vir die internet was nie, sou ons teen dié tyd net daaglikse odes aan Nelson Mandela en die noodsaak vir regstellende aksie in die koerante gelees het. Niks anders sou meer toelaatbaar gewees het nie.

Enigiets wat deesdae op papier gedruk word, is op een of ander manier polities korrek. Dis seker logies, want daar bestaan soveel hekwagters, by die koerante, die tydskrifte, die uitgewers, die keurders, selfs die boekwinkels, ens., dat enige dissidente geluid lankal reeds voor al die struikelblokke gaan sneuwel alvorens die publiek nog daarvan kon kennis neem.

Daarom gaan so iets noodwendig aanlyn moet gebeur, of in die vorm van e-boeke. Dit kan egter ‘n baie opwindende tydvak in Afrikaans inlui waar ‘n nuwe boek of opstel of geskrif nie meer in jou “hoofstroomkoerant” geresenseer word nie, maar op Twitter of Facebook aangekondig word. Dis ‘n soort “kopskuif” wat ons moet maak, om nou ‘n woord te gebruik wat eintlik al polities korrek klink – so in die trant van “pas jou by jou eie ondergang aan” – maar u verstaan wat ek bedoel. Nuwe maniere van dink en doen sal gevind moet word om in die aangesig van die staat en die polities korrekte oormag weereens die blommetjie of die doringboompie wat Afrikaans is, te laat gedy.

Uiteraard verg ‘n neoreaksionêre beweging in die kunste geweldig moed. Nie net omdat skrywers, sangers en ander kunstenaars van meet af aan aangeval en verguis gaan word nie – daaraan is ons al amper gewoond – maar omdat dit vir die eerste keer in ‘n lang tyd iets oorspronkliks sal wees. Die tydvak van die na-aper, die mimiekmodernis – die skrywer V.S. Naipaul het na Wes-Indiërs as “mimiekmense” (mimic men) verwys – is verby en vir die eerste keer waag ons ‘n sprong in die donker, iets oorspronkliks en kloekmoedigs.

Hierdie keer gaan ons nie die reeds gekanoniseerde oorsese produkte en vorme plaaslik “bekendstel” nie, maar volledig as gelykes deelneem en dalk selfs op die voorpunt nuwe voorstellings skep. Uit daardie voorstellings moet ‘n nuwe orde, wat dalk meer soos die oue gaan lyk, tot stand kom. Ons is siek en sat van die “heerlike dekadensie” en paradyslike wreedheid wat ons omring.

Miskien moet ons, soos van ouds, ‘n manifes vir so ‘n beweging skryf. Ek kan reeds dink aan ‘n plek waar ons dit sou kon bekendstel: in die middestad van Johannesburg, in een van die half gesloopte ruïnes van geboue wat deur ons grootste argitekte van weleer ontwerp is.

As blanke boemelaars kan ons só – ironies – ons huidige ellende en vergange glorie vier.

Ondersteun hierdie beweging.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.