Te veel ekstremiste is al vernoem

Deel op

Die Kaapse stadsraad wil Tafelbaai-boulevard na F.W. de Klerk hernoem en De Klerk se minnesanger Leopold Scholtz vind dit uitstekend aangesien “ekstremiste” daarteen gekant is.

Die probleem is egter dat sommige “ekstremiste” in Leopold se eie verbeeldingswêreld nes geskop het, waarmee hyself sy “gematigde” draadsitterstatus onder verdenking plaas.

Linkse ekstremiste meen De Klerk was ’n nare apartheidspresident wat dié beleid net afgeskaf het omdat die heldhaftige ANC hom daartoe gedwing het. Aan die regterkant word gesê De Klerk het die wit mense en die Afrikaners verraai.

Albei groepe meen De Klerk moenie op dié manier vereer word nie. (Interessant hoe uiterstes mekaar altyd êrens vind!)

Teen hierdie tyd is daar min Afrikaners wat nie al oor die kop geslaan is met die “wonderlike” uitkoms van De Klerk se onderhandelinge nie, en hulle is gewone middelklasmense, kwalik die soort wat by ISIS gaan aanmeld om koppe af te saag.

Dis daar in die “gematigde middel” waar Poldi homself bevind waar sulke afwykings eintlik heers. Dis die soort mense wat glo terreur is die antwoord om van Afrikaners ontslae te raak, en dit befonds, aanmoedig en uitvoer. En dan vir 20 jaar volhou met geteikende veldtogte teen ons taal, ons skole en elke ander instelling waar Afrikaners verteenwoordig is.

Poldi is dus terdeë  bewus van die onverkwiklike gemors wat De Klerk nagelaat het, anders sou hy nie so verheug gewees het dat ons “burgerregte” flink deur die Grondwet beskerm word nie.

Renate Barnard, die wit polisiekaptein, sal egter verskil hiervan:

Twee gevolgtrekkings spruit hieruit. Een: Moenie so baie kerm nie; gooi jou gewig agter bewegings soos AfriForum en Solidariteit in en maak gebruik van die Grondwet as wapen. Twee: Vereer De Klerk vir sy rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Verbasend dat die twee uitsluitende gevolgtrekkings Scholtz nie in die minste pla nie. As sy tweede gevolgtrekking korrek is, was die eerste nie nodig nie, nie waar nie?

Die vermaarde pryssanger erken egter sy tekortkominge: Hy weet “vaagweg” van al die “geweld en burgeroorloë ver in die wêreld, die Oekraïne, Sirië, Irak, Afganistan, Pakistan, die Kongo, Suid-Soedan, Ni­gerië, noem maar op, maar is nie régtig bewus daarvan nie”.

Dit het Praaglesers al opgeval hoe oningelig die man is, ja, maar blykbaar weerhou dit hom nie daarvan om voortdurend allerlei “internasionale” menings aan algar op te dis nie, die meeste daarvan uit sy duim gesuig.

Ons was onderweg na ’n volskaalse burgeroorlog, soortgelyk aan die enorme geweld in die gebiede wat hierbo genoem is, veel erger as wat ons tans ondervind.

En die maan is van kaas gemaak. Daar is baie ander uitkomste wat namens die Afrikaners onderhandel sou kon word, maar met sulke vooropgestelde idees soos “die volskaalse burgeroorlog” waarheen ons op pad was, was dit kennelik te groot om af te byt vir die Boksombende.

Die harde waarheid is dat apartheid teen 1989-’90 nie alleen moreel uitgehol was nie, maar prakties misluk het. Ons weet vandag dat die oorspronklike partisie-idee wat – as dit behoorlik uitgevoer kon word – moreel aanvaarbaar was, reeds met die NP-oorwinning in 1948 onuitvoerbaar was. In die praktyk het dit verword tot ’n naakte en immorele rasse-oorheersing van ’n meerderheid deur ’n minderheid.

Hierdie wysheid het Poldi waarskynlik woordeliks uit sy Britse handleiding vertaal. Die harde waarheid is dat die myne Eldorado in die opkoms van China raakgesien het en hul bedrywe terug wou skuif na Londen en dus geen meer nut gehad het in apartheid nie, ‘n stelsel wat deur Jan Smuts verfyn is om arbeid aan Britse mynbelange te verseker.

Die burgeroorlog teen Afrikaners woed onverpoos voort sedert 1994. Ons het geen geweld vrygespring nie; ons beleef dit daagliks. Die mynbase in Londen nié. Die idee dat ons geweld vrygespring het, is gewoon onsinnig. Met 77 moorde per dag as die gevalle van manslag ingesluit word, grens Scholtz se stellings eintlik aan kránksinnig.

Uit De Klerk se persoonlike geskiedenis wil dit voorkom asof hy juis op daardie tydstip toe hy bewus moes gewees het van sulke kwessies, nie ernstige oorweging daaraan geskenk het nie.

Dat Poldi sekere burgerregte-organisasies adverteer saam met De Klerk, moet vir sulke organisasies rede tot kommer wees, tensy hulle hulself distansieer van die man wat vir Afrikaners se penarie verantwoordelik is.

Dit kan hulle beeld wat hul teikenmark betref, net goed doen.

Daar is al genoeg ekstremiste wat vernoem is. Om die waarheid te sê, te veel, want oral waar ‘n mens kom, pryk hulle name op straatborde, geboue en openbare ruimtes in Suid-Afrika. Nie nog een nie, asseblief!

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.