Repliek aan Beeld se Virginia Keppler

Deel op

Geagte me. Keppler,

Moontlik is dit ongevraag van my om ‘n skrywe aan u te rig, maar dan was dit ewe ongevraag van u om ‘n ope brief aan Steve Hofmeyr te skryf waarin u die Afrikaanslesende heelal met u histrioniese gemeenplase teister. Oktober, soos C. Louis Leipoldt gedig het, is “die mooiste, mooiste maand”. Maar danksy u epistel, sluit ons dié aanskoulike maand op ‘n aaklige noot af.

Die sonskyn en die blou lug daarbuite kan beswaarlik vir die donker, muwwe botheid wat uit u kwaadwillige bewussyn spreek, vergoed.

Ten eerste, merk u waarskynlik op dat ek u woewoejeer en nie, soos u met mnr. Steve Hofmeyr maak, hom tutojeer nie. Ek ken u nie, net soos u vir Hofmeyr nie ken nie. Daarom is dit onbeskof om hom te “jy” en “jou”. Die woord “bleddie” is ook allermins ‘n byvoeglike naamwoord wat by ‘n, op die oog af ernstige, politieke argument pas.

Dus, indien u voortaan met Afrikaners in gesprek wil tree of ope briewe aan hulle wil rig, stel ek voor dat u van ons “goeie maniere en etiket” kennis neem, om nou die titel van Emsie Schoeman se vermaarde handleiding in dié genre sydelings aan te haal.

Ek bemerk ook dat u “handjievol” (‘n “handjievol rassiste”) as een woord skryf, terwyl die AWS dit as twee woorde (“handjie vol”) beskou. Ek weet, ek weet, waarskynlik beskou u dit as ‘n kleinigheid, gegewe die verwerping van Standaardafrikaans wat deur soveel van ons bruin landgenote voorgestaan word, maar ons sien dit raak.

Afrikaans, soos baie ander dinge – ook die Suid-Afrikaanse geskiedenis – is ingewikkeld. Dit is maklik – fasiel, soos die Franse sê – om alles tot ‘n karikatuur te vereenvoudig, maar daardeur gaan die wese daarvan verlore.

U “ope brief” – wat sal ‘n mens dit noem, ‘n “tutojerende preek”? want u preek vir Steve Hofmeyr – gaan van die standpunt af uit dat die stereotipiese marxistiese interpretasie van ons geskiedenis die enigste sou wees wat daar bestaan. Intussen is daar meer as een verhaal, wat steeds – en toenemend – in mededinging verkeer. Al mag u so dink, het die revolusie nog nie sy gesogte, keiharde hegemonie kon afdwing nie. Soos wat korrupsie, onbekwaamheid en grypsug toeneem, is daardie mooi verhaaltjie besig om uit te rafel. Min denkende mense neem dit nog ernstig op.

Verder is daar by u sprake van dieselfde soort ressentiment wat ek ‘n klompie jare gelede al by Kirby van der Merwe geïdentifiseer het. Ek het dit in ‘n brief aan Rapport verwoord wat ek vermoed nooit geplaas is nie, maar wat ek sommer nou elders publiseer en waarin ek die soort anti-Afrikaner-ressentiment wat blykbaar die “bruin” of “kleurlingdiskoers” kenmerk, geëien het.

U brief is insgelyks deurdrenk van anti-Afrikaner-ressentiment. Asof die Engelse, Indiërs, swartes – en bruines! – in dié land nie ook heelwat vergrype op hul kerfstok het waarvoor ons hulle kan kwalik neem nie. Veral in hierdie, sogenaamde “nuwe Suid-Afrika” met sy vernietigende geweld, verkragting, moord en doodslag, lyk dit nogal anachronisties om die magtelose en vertrapte Afrikaners vir enigiets te blameer.

U oorskat werklik die invloed van die sogenaamde “opmars deur vroue na die Uniegebou van 1956” waaraan u Steve Hofmeyr herinner. Tydens die tweede wêreldoorlog, maar ook vroeër na afloop van die Rebellie in 1915, het veel groter groepe Afrikanervroue teen pro-Britse regerings betoog, iets wat intussen in die vergetelheid versink het. In 1915 het “duisende Boerevroue wat per trein van oor die hele land aangekom het, in swart geklee en in doodse stilte vanaf Kerkplein na die Uniegebou gestap om ‘‘n petisie vir die vrylating van generaal Christiaan de Wet aan die regering te oorhandig”. Met die uitbreek van die tweede wêreldoorlog het ongeveer “negeduisend Afrikanervroue na die Uniegebou gestap het om te betoog dat die Unie neutraal moet bly in die oorlog wat in Europa woed”.

Dit was voorbeelde van spontane protes teen regeringsbeleid, terwyl die fameuse voorval van 1956 deur ‘n klein groepie (hoofsaaklik Joodse) kommuniste gereël en georkestreer is om die illusie te skep dat daar radikale of kommunistiese steun onder swart vroue bestaan, terwyl die kommuniste in werklikheid oor geen steun buite enkele oorwegend Joodse voorstede in Johannesburg en Kaapstad beskik het nie. Terwyl u u roem op u rasgenoot, Sophia Wil­liams- de Bruyn, wat glo “ruggraat” gehad het, was sy bloot ‘n figurant in die skema van die Slovo’s, asook Hilda en Rusty Bernstein wat ten doel gehad het om Suid-Afrika in ‘n vasalstaat van die destydse kommunistiese Oos-Europa te omskep. Lees gerus Joe Slovo se biografie deur Alan Wieder as u met my sou verskil.

Verlede jaar het die SA Joodse Raad van Afgevaardigdes en die SA Jewish Report ‘n terugwerkende besluit aangeneem wat hul onvoorwaardelike steun aan die klein groepie radikale, kommunistiese Jode van destyds toesê. Intussen sien ons egter hoe verhoudinge tussen Moslems en Jode in Suid-Afrika toenemend versleg en was daar die onlangse voorval waar ‘n varkkop in die kosjergedeelte van Woolworths se vleisafdeling in die Kaap ingesmyt is. Ek twyfel dus werklik of selfs Jode as etniese groep deesdae so trots op die radikale kommunistiese en terreurbeweging van vorige dekades is, ‘n beweging wat u klakkeloos ophemel.

Daarom bevestig u maar net weer wat ons al lankal vermoed: dat u etniese groep die hand van vriendskap wat die Afrikaner na u oor baie jare uitgereik het – selfs in die vyftigerjare met Van Wyk Louw en D.P. Botha – weggeklap het en verkies om met ons vyande téén ons te heul, of hulle nou kommuniste, terroriste, of Britse kolonialiste is.

Indien u hoegenaamd as joernalis die moeite en die nodige ondersoek sou gedoen het, sou u gevind het dat Verwoerd, byvoorbeeld, waarna u so neerhalend verwys, geensins vyandig teenoor kleurlinge gestaan het nie. Trouens, in sy “Toespraak voor die Uniale Raad vir Kleurlingsake te Kaapstad op 12 Desember 1961 het hy die volgende te sê gehad:

“Die Kleurlinge kan een deel van die land tereg beskou as oorwegend die plek van hul herkoms, die bronaar van hul bestaan: Wes-Kaapland. Ek begryp goed dat die instroming van die Bantoe in die gebied waar daar vroeër nie Bantoes was nie, gesien kan word as ‘n ontwikkeling wat kanse van die Kleurlinge wegneem, en dit nogal juis in die gebied waar hulle hul beste kanse verwag…”

Kennelik is die gedagte dat die bruinmense van die Wes-Kaap nie deur die Xhosas van die Oos-Kaap demografies, polities en ekonomies oorheers behoort te word nie, vandag oudmodies en behorende tot “apartheid”. Die nuwe idee is juis dat die bruin minderheid van die Wes-Kaap oorheers móét word! Gegewe die oplaaiende Boerehaat wat ek egter in u “ope brief aan Steve Hofmeyr” en op baie ander plekke bespeur, kan ek u verseker dat ons nou genoeg gehad het van “stank vir dank”. Solidariteit maak ‘n groot fout om regstellende aksie teen bruines ten gunste van swartes in die hof te beveg. Sekerlik spruit dit uit hul Verwoerdianisme en behoort dit onmiddellik gestaak te word!

U beskou uself as “swart”. Dit is eenvoudig te wonderlik vir woorde en ek stel voor dat u sonder verwyl by Julius Malema se EFF aansluit waar u behoorlik die beleidsrigtings van ‘n swart bewussyn kan verinnerlik. Sekerlik behoort dit by Beeld ook bevorderingsmoontlikhede in te hou, want die gebreinspoelde “bleek naturelle” – om die ewe dom en verwarde Max du Preez se term te gebruik – in u werksomgewing sal geredelik hul meer senior poste aan u wat met ‘n donkerder gelaat geseën is, afstaan.

In u histrioniese uitbarsting van “swart” slagofferskap, hoon en belaster u Steve sonder enige gronde as “rassis” en moedig hom selfs aan om die land te verlaat:

As dit nie meer vir jou lekker is hier in die sonnige Suid-Afrika nie, pak op en trek. As dit te swart is en as daar te veel wit mense is wat nie met jou saamstem nie, laat jy gestap raak, boetie.

Boetie, nogal. Ek kan nie namens Steve praat nie, maar ek kan u verseker dat ek of my gesin kwalik “gestap sal raak” omdat iemand uit u milieu ons daartoe beveel. Veel eerder sal ek geld skenk om meer Xhosas in busse aan te ry Wes-Kaap toe dat, soos Jimmy Manyi gesê het, die “oor-konsentrasie van kleurlinge in die Wes-Kaap” beëindig kan word.

Dis mos ‘n oorblyfsel van apartheid, nie waar nie? Dat ‘n minderheidsgroep hom so blatant rassisties aan die res van die land en die meerderheidswil kan ontruk deur vir ‘n blanke vrou, me. Helen Zille, te stem! Waarom aanvaar die Wes-Kaap nie die regering van mnr. Zuma nie? U mag “bevry” wees, maar waarskynlik is die Wes-Kaap nog nie genoegsaam bevry nie.

U sê verder:

Ek en miljoene mense in die land is moeg vir mense soos jy en al die verkrampte regses wat ons in hul binnekamers en om hul braaivleisvure beledigende en rassistiese name noem.

Ek ken nie veel “verkrampte regses” nie, maar wel libverkramptes wat ons ons spraakvryheid ontsê en geen afwyking van hul polities korrekte, kwasi-religieuse dogma duld nie. Wat rassistiese name betref, het ek al vele swartmense teëgekom wat niks van Wes-Kaapse bruinmense hou nie en hulle dinge soos “Boesman”, asook woorde in hul eie tale, toesnou. Gegewe haar swart status, voel me. Keppler waarskynlik dieselfde oor die bruines, maar ek sal met belangstelling die jongste voorbeeld van Afrika-konflik tussen ligter en donkerder “swart” dophou, soos dit al tydens die burgeroorloë in Liberië en in Angola gemanifesteer het.

Me. Keppler beweer dat swartmense in die ou Suid-Afrika nie op die sypaadjie mog loop nie. In antwoord hierop het iemand die volgende video op YouTube opgediep wat in die sewentigerjare in Johannesburg en Kaapstad geneem is, en aantoon watter infame leuen dit is. Hier loop swart en wit heerlik op die sypaadjies saam. As nuusredakteur van Beeld, behoort me. Keppler seker van beter te weet as om so ‘n blatante onwaarheid selfs in ‘n meningstuk te verkondig.

Met ‘n bietjie verbeelding en insig kan ‘n mens seker Steve Hofmeyr se uitnodiging aan mense om te dink oor hoe swartmense “die argitekte van apartheid was” op verskeie maniere interpreteer.

Toe RW Johnson in sy boek, South Africa’s brave new world, enkele jare gelede die Nuwe Suid-Afrika as ‘n “groot Bantoestan” beskryf het, het enigiemand beswaar gemaak of hom van rassisme beskuldig? Nee, want hy is mos ‘n Engelsman van Natal en geen Afrikaner nie. Ook die Business Day het onlangs die volgende twee kaarte gepubliseer om aan te toon dat apartheid steeds voortleef as dit by stamowerhede in Suid-Afrika kom:

Tuislande: toe en nou
Tuislande: toe en nou

Het Beeld en Keppler dit goed gedink om die Business Day vir ‘n verregse, “rassistiese” publikasie uit te kryt en sy redakteur beveel om “gestap te raak, boetie”? Nee, want in Beeld se kruiperige onderdanigheid teenoor alles wat Engels is, sal die gedagte nooit eens in die verskiet verskyn dat die Business Day op dieselfde hovaardige en minagtende wyse as Steve Hofmeyr verguis behoort te word nie.

Afrikaners is mos “vrye wild”, soos ook tydens plaasmoorde. Ons meningsvryheid en selfs ons lewens tel nie vir die polities korrekte kabaal wat as die Beeld-redaksie bekendstaan nie.

Die ander punte wat Steve oor “andersheid” en die “Afrika-agterstand” gemaak het, is ewe geldig. Maar ook: indien mense uit Afrika in die verlede Wes-Europa gaan regeer het – iets wat hulle dalk binne hierdie eeu gaan doen, gegewe hul onverbiddelike demografiese vooruitgang! – sou hulle nie ook ‘n vorm van skeiding of onderskeid tussen rasse of groepe gehandhaaf het nie? Reeds sien ons in ons land dat swartmense veel meer rasbewus as blankes is en deur wetgewing hul eie “apartheid”, wat hulle regstellende aksie of swart bemagtiging noem, afdwing.

Die onverdraagsame histerie waarmee daar op Steve Hofmeyr se uitnodiging tot nadenke en debat gereageer is, toon aan ons hoe min u, me. Keppler, asook Beeld en vele ander in dié land, van die “oop gesprek” en ware “demokrasie” soos dit dekades gelede al deur N.P. van Wyk Louw geformuleer is, verstaan!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.