Louis Trichardt: Hoes en betaal is die wet van Transvaal

Deel op

Die voorsitter van die Louis Trichardt-voorsittersvereniging (VV), André Naudé het die skikking verwelkom om die dorp se naam in ere te herstel.

Hy sê inwoners sal nou daarop fokus om die erfenis van die dorp te bewaar.

Volgens die skikking sal Makhado in Limpopo weer as Louis Trichardt bekendstaan.

Die minister van kuns en kultuur en die Geografiese Pleknaamraad het gister buite die hof met die vereniging geskik.

Die Hooggeregshof in Pretoria het daarna die besluit om die dorp se naam na Makhado te verander, ter syde gestel.

Die skikking volg nadat die Pleknaamkomitee nie ‘n rekord van voldoende konsultasie oor die naamsverandering kon verskaf nie.

Naudé sê die komitee het dit nie in ag geneem dat die dorpsnaam reeds meer as 110 jaar oud is nie.

Die minister (eerste respondent), die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad (tweede respondent) en die Makhado Munisipaliteit (derde respondent) het die stryd om Louis Trichardt se naam na Makhado te verander, Donderdagoggend gewonne gegee.

Die naam Louis Trichardt is in die Staatskoerant van 14 Oktober 2011 (Staatskoerant 34670, Kennisgewing 851) as Makhado gepubliseer.

Ná aanleiding hiervan het die Voorsittersvereniging (VV) ‘n hersieningsaansoek gebring om dié publikasie tersyde te stel.

Ná maande se gespook om dokumentasie uit die respondente te kry oor die Minister van Kuns en Kultuur se besluit om die naam te verander, het die VV ‘n aansoek gebring om die drie respondente te verplig om op 30 Oktober 2014 die nodige dokumentasie te verskaf.

“Ons het hulle verplig om die dokumentasie beskikbaar te stel waarvolgens die Minister se besluit geneem het om die naam te verander. Hulle kon dit nie beskikbaar stel nie. Hulle het geweet ons gaan die bevel kry en het besluit om die handdoek in te gooi. Hulle het besef hulle kan nie met die saak voortgaan nie, want hulle het nie die dokumentasie gehad waarop die minister se besluit gebaseer was nie,” het Naudé gesê.

Die drie respondente het by wyse van ‘n ooreenkoms die handdoek ingegooi en die publikasie van die naam Makhado in die Staatskoerant is deur regter Da Silva tersyde gestel.

Die drie respondente het ook aangebied om al die verspilde koste van die applikante (VV) te betaal. Dit is ook deel gemaak van die hofbevel.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.