Die parlementêre adhoc-komitee oor Nkandla het president Jacob Zuma in sy voorlopige verslag kwytgeskel van enige ongerymdhede met die opgraderings by sy privaat woning.
Mathole Motshega sê die “pay-back-veldtog” deur opposisie partye het in duie gestort.
Opposisiepartye het daarop aangedring dat die president ‘n gedeelte van die geld wat op Nkandla se opgraderings spandeer is, terugbetaal.
Maar Woensdag het die ANC die Wes-Kaapse hooggeregshof se beslissing tussen die DA en die SABC-voorsitter in die opposisie se neuse gevryf oor Nkandla.
Luidens die beslissing strek die magte van die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, nie so ver as wat die DA beweer tov Nkandla nie.
Die hof het bevind dat die remedieerende optrede deur die Openbare Beskermer nie bindend is nie.
Die ANC-lid van die komitee, Motshega is van mening dat die hofuitspraak die komitee se bevindinge regverdig.
“Die uitspraak sê as die Grondwet in die vooruitsig gestel het dat die remedieerende optrede van die Openbare Beskermer bindend moet wees, sou dit so gesê het. Dit sê nie so nie en die Wet op die Openbare Beskermer sê ook nie so nie.”
“Die terugbetaalveldtog het dus in duie gestort as gevolg van die hofbevel en die briewe wat geskryf is [deur Madonsela], het hul geldigheid verloor. So ek is bly dat die regbank van hierdie land ons regtig behoorlik gelei het. Ons sal in staat wees om vorentoe te beweeg met spoed sonder enige verwarring van enigiemand se kant.”
Die komitee wat slegs uit ANC-lede bestaan nadat die opposisie uit die komitee gestap het, het weer begin om sy voorlopige verslag te bespreek.
‘n Komiteelid, Mamoloko Kubayi, sê president Zuma was nie deel van ongerymdhede nie, maar dat die argitek van die projek, Minenhle Makhanya, onreëlmatig aangestel is.
Hy sê dit is duidelik dat die president nie die opgraderings versoek het nie.