Byna 170 oortredings tydens Poskantoorstaking

Deel op

Die minister van Telekommunikasie, Siyabonga Cwele, sê byna 170 sake is by die polisie aangemeld vir misdade wat tydens die staking gepleeg is.

Die onwettige tweemaandelange staking deur werkers wat vaste aanstellings en verhogings eis, het die Poskantoor feitlik op sy knieë gedwing.

Die misdade sluit ondermeer gevalle van kwaadwillige saakbeskadiging, intimidasie en aanranding in.

Cwele het in die Nasionale Vergadering van die parlement op ‘n vraag gereageer.

Die minister sê diegene wat die meeste deur die staking geraak word, is die armes, maar sakeondernemings het swaar gely onder die staking aangesien talle van duur koerierdienste moes gebruik maak.

Cwele pogings om die Poskantoor en die vakbondleiers te oorreed om tot ‘n vergelyk te kom sal voortgaan sodat werkers kan terugkeer werktoe.

Vakbondleiers het vroeër hulle looneis van 15 persent tot 7,5 persent afgeskaal.

Die Universiteit van Suid-Afrika het ondanks die staking ononderbroke dienste ontvang.

UNISA is een van die Poskantoor se grootste kliënte.

Cwele het gesê die Poskantoor het met die hulp van UNISA stelsels in plek gestel om te verseker dat die Unisastudente hulle pos en studiemateriaal ontvang.

Dit is veral belangrik vir studente wat eksamen gaan skryf dat hulle hulle werkstukke ter voorbereiding van die eksamen betyds ontvang.

Die minister het ook gesê die Departement en die Poskantoor sal voortgaan om met ander groot rolspelers en instellings wat swaar leun op die Posdienste, in gesprek te tree.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.