Steve: ‘Apartheid was nie oorsaak van Afrika-agterstand’

‘Ek is net so verlig soos elkeen as ek soggens ongedeerd wakkerword’

Terwyl die Afrikanermening tot onlangs as onbelangrik en nie-tersake in Suid-Afrika geag is, ontlok Steve Hofmeyr se uitsprake en optrede soos die sing van Die Stem toenemend reaksie by die heersende Engelse media en meningsvormers, sy dit dan dikwels negatief. Ná sy uitspraak dat swartmense die eintlike “argitekte van apartheid” is, het die sosiale media, webblaaie en koerante gegons van reaksie. Daarom het praag ‘n onderhoud met Steve Hofmeyr gevoer en hom verder oor sy sienings uitgevra.

Waarom word jy tans so heftig gekritiseer? Dink jy daar is ‘n georkestreerde veldtog?

Steve Hofmeyr: Ek gebruik my ruimtes op sosiale media om die wegholperd so af en toe in die bek te ruk. As my pleidooi vir gedeelde aandadigheid aan die verlede nie slaag nie, gaan ons en ons kinders les opsê in die afsienbare toekoms. Moontlik vir ewig.

Hoe moet mens jou twiet dat swartes die “argitekte van apartheid” was, interpreteer?

Steve Hofmeyr
Steve Hofmeyr

SH: Ek dink swartes dra ook skuld vir die feit dat ander, nie net Verwoerd nie, wetgewing gebruik het om aparte ontwikkeling te bevorder. Soos ek altyd sê, as niemand met jou wil speel nie, is dit nie altyd ander se skuld nie.

Apartheid was nie die oorsaak van Afrika-agterstand nie. Apartheid het ‘n bestaande agterstand moontlik net besweer. Apartheid was as gevolg van daardie agterstand onder buurvolke. Daar is beslis ‘n georkestreerde veldtog om my mond te snoer terwyl ek bykans oral geboikot word. Ten spyte van die nasionale banvloek, is my nuwe CD en boek tog bo-aan die treffersparades. Ek en my vriende daar buite se goeie verhouding word onderskat deur ‘n klomp kloekende middelmanne wat ek nou weet, altyd oorbodig was. Ek praat nie af na die publiek nie; ek praat uit hulle uit, en as ek nie meer verwoord wat hulle hartslag verraai nie, sal hulle my sê en sal ek weggaan.

Die Mail & Guardian se adjunk- digitale redaktrise beskryf jou as ‘n “right-wing Afrikaner nationalist”. Wat is jou kommentaar daarop?

SH: Ek is ‘n nasionalis bloot omdat hulle nasiebouprojek liederlik gefaal het. Mens “bou nie nasies” nie. Nasies kom met eeue se momentum. Hulle moet kom dat ek hulle die regte “right wing” wys, dan sal hulle weet dat ek nog van die laaste regses is wat enigsins met hulle wil redeneer. Uiteindelik is ek eintlik gematig, selfs liberaal in sekere opsigte, en dan weer deeglik behoudend daar waar dit nodig sou wees, soos ons erfenis, asook ons vooruitsigte. Hulle grootste twee foute is: om my te sien as ʼn eensame stem in die wildernis en om my tipe van reaksie nie te identifiseer as ʼn simptoom van hulle eie gebrekkige beleid en ideologie nie. Hulle wiskunde is maar sleg en ná twintig jaar se proeftydperk, vertrou ons hul eksperiment nie meer nie.

In Suid-Afrika tref mens dikwels die sondeboklogika aan. Gegewe die vele mislukkings wat Suid-Afrika tans op soveel gebiede ervaar, het jy die indruk dat daar ‘n sondebok van jou gemaak word?

SH: Ja! Die onversadigde wraaklus wat swartes het ten opsigte van die verlede sou hulle so graag op iemand tasbaars wou vel. Die liberale media hou ook daarvan om my te blameer vir huidige mislukkings, die skielike skeiding tussen rasse en die wanprestasie van die ANC, asook ou bagasie van baie lank voor my tyd. Dit is ‘n groot eer, maar nee, dit is ʼn stokou wond wat hulle by magte was om te heel, en daartéén gekies het. Ek is maar net die simptoom van hul grootste probleem aan hierdie kant – hulle het ons lank terug vervreem. En al wat hulle ons kan toesnou, is hoe ons dom is.

Deur jou landwye toere kom jy met baie mense in aanraking. Wat is die algemene gevoel tans onder Afrikaners? Moedeloos? Gedwee? Polities korrek? Aanvaar hulle die huidige toestande of is daar tog ‘n kritiese bewussyn?

SH: Soos baie van ons, skop die Afrikaner daar buite nog teen die nuwe norm. Hy wag vir Godot, vir lig, maar begin tekens toon van uitputting. Die uitputting verminder hoe verder suid jy reis, eksponensieel. Dis byvoorbeeld steeds gerieflik om aan Gautengers voor te skryf vanuit Tamboerskloof en Stellenbosch.

Dit verander egter. Die Afrikaner en Boer gryp na die laaste strooihalms van trots, soos om tartend en uitdagend op te staan en Die Stem te sing, uit volle bors. Om sy hart te stort in sosiale media en om saam te kloek om braaivleisvure waar jy net weer mag sê wat jy wil, voel wat jy wil en trots wees waarop jy wil. Jy sal flou neerslaan as jy weet hoeveel Engelse Suid-Afrikaners vandag eens is met hoe ons voel. Ons is ‘n kultuur in neurose. Al wat ons nog stamina bied, is vlae paranoia en die feit dat as jy wegkyk en ophou konsentreer, jy en jou familie kan uitbloei daar onder in die gang. Ons is so omdat ons goeie mense is. Ons wil vertrou, wil glo in die beste van ons medemense, ons gee maklik alles oor omdat ons Christene is, mededeelsaam is en meesal die goeie in almal sien.

Dis duidelik dat die sosialistiese narratief seëvier oor logika en oorlewingsdenke.

Die nuwe norme (moord- en verkragstatistiek, lae standaarde betreffende gesondheid, opvoeding, werkloosheid, water- en kragtekorte, ontlasting in die strate, bejaarde- en kleuterverkragtings) is iets waartoe ons moeilik akklimatiseer. Ek is net so verlig soos elkeen as ek soggens ongedeerd wakkerword terwyl ek telkens stom van skok lees wat daagliks gebeur. Mag ons dit nooit as normaal “internaliseer” nie. Ons wend ons tot howe en grondwette, ons protesteer vreedsaam, tel selfs vullis op na optogte. Ek is trots om te sê ons verteenwoordig onder haglike omstandighede, kultuurbedreiging, volksuitwissing, taalmarginalisering en armoede, nog steeds ʼn mate van beskawing.

Siende dat die Mail & Guardian met jou boekerak spot, kan ons jou seker vra: Wat lees jy graag? Wie is jou gunstelingskrywers?

SH: Ironies het die M&G die uitdrukking nie verstaan nie. “In my boeke…” (In my books…) het eintlik niks met fisiese boeke te make nie. Daar gelaat, ek lees graag. Ek kry tyd en maak tyd. Ek lees tans Anthea Jeffreys se BEE – Helping or hurting? en dit lees soos Cronjé se Our next ten years en Dawie Roodt se Tax, lies and red tape, naamlik, ‘n ekonomiese grafskrif. Ek is stomgeslaan dat alle scenariobeplanners en ekonome ons onmiddellike verlossing uitspel, maar dat dit in géén partye (die DA en verder links) se manifeste opgeneem word nie. Dis duidelik dat die sosialistiese narratief seëvier oor logika en oorlewingsdenke. Kortom, ons lewe in ‘n waan en selfs ons tragiese projeksies en toenemende indeksnederlae dien geensins as waarskuwing nie. Ons was nog nooit so blind nie en die katarak se naam is politieke korrektheid. Starsug.

Toe jy in Australië was, watter soort indruk het jy van die diaspora-Afrikaners gekry? Sou hulle wou terugkom as hulle werk hier kon kry?

SH: Ek loop af en toe ‘n kwynende groepie “ekspats” raak wat vra of ek dit sou doen (terugkeer). Ek sê altyd ja, maar ons weet dit is ‘n persoonlike besluit. Oorwegend verdien mense minder oorsee, maar as jy vastrapplek kan kry, sal jy seker altyd verlang, maar nooit weer terugkeer nie. Soos in die verlede, reis ons goed, pas ons goed aan en maak ons mooi waar ons aanland. Ons werksetiek is in aanvraag op alle kontinente. Ek bedank die bedenklike prestasies van die ANC dat ek vir enorme Afrikaanse gehore in Amerika, Kanada, Nieu-Seeland, Australië, Dubai en Londen mag optree. As dit so aangaan sal ek binnekort konserte in Groenland kan doen.

Hoe sien jy die toekoms van Suid-Afrika?

SH: Lang termyn, bedroewend. Dis afskuwelik om ‘n pa te wees van wit kinders. Ons moet op ‘n daaglikse basis vir ons kinders lieg oor hulle mooi jongmensdrome en die vooruitsigte daarvan, bloot oor hul pigmentasie en rasgebaseerde beleid teen hul voorkoms. Soos jy wag ek vir ‘n wolkie op die horison. Kort termyn sou ek reken dat burgerregtekokonne ons heil is, maar alleen solank ons ons kan beroep op ‘n redelike regbank. Uiteindelik streef ons na ‘n 21-ste-eeuse Reddingsdaadbond, want maatskaplik kan ons ons eenvoudig nie meer op die regering beroep nie.

Het jy al ooit oorweeg om die politiek te betree?

SH: Ek sou seker politiek dadelik oorweeg het as ek seker was dat dit sleg genoeg gaan dat Afrikaners en ander nugterdenkendes uit hul enklaves en skulpe sou kruip om en masse te kom stem, maar ek twyfel daaraan. Jammer as ek pessimisties is, maar ek het nog geen fatsoenlike bestemming waarheen ek mense sou wou help lei nie (behalwe Perth natuurlik). Ek volhard tans graag as gatvlieg bloot omdat skeurings in die regerende party oornag alle scenario’s kan herskryf. Dit is nie buite bereik nie, maar ek kan doen met hulp. Skrou. Protesteer. Kla. Eis. Eis diens. Enige diens. Plaas druk. Do not go gently into that good night. Moet niks substandaards aanvaar nie. Laat weet almal jy is beter gewoond en moenie ophou voordat jy dit kry nie. Ek het steeds hoop vir Afrikaners en Suid-Afrikaners. Alle Suid-Afrikaners.

Naskrif: Terwyl die maatskappy Williams Hunt in Port Elizabeth Steve Hofmeyr se borgvoertuig tot groot vermaak van die liberale hoofstroommedia teruggeneem het, het hy op 28 Oktober getwiet:

Beeld se spontprent oor die Williams Hunt-episode
Beeld se spontprent oor die Williams Hunt-episode

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.