Poetin lewer ‘n grondverskuiwende toespraak

Wladimir Poetin het Vrydag die enkele mees belangrike toespraak oor buitelandse beleid gelewer sedert hy president van Rusland in 2000 geword het.

Mikhail Gorbatsjof, die voormalige Russiese president, het gesê hy het gedink dit was die beste, en mees betekenisvolle toespraak wat hy ooit gemaak het.

Die reaksie van Westerse politieke ontleders en hul media-elite was daarenteen jammerlik ontoereikend. Die grondverskuiwende toespraak  in Sochi, by die Valdaiklub, het verbasend min aandag ontlok.

Westerse ontleders wat die moeite gedoen het, het dit voorgehou as ‘n uitdagende reaksie op die Amerikaanse beleid van sanksies wat Rusland weens die Oekraïense krisis opgelê is, terwyl die Russiese president byna skaars daarna verwys het.

Hulle het Poetin se uiters samehangende intellektuele raamwerk totaal geïgnoreer.

Dit was ‘n heel ander persoon aan die woord as die aggressiewe, ekspansionistiese en nasionalistiese demagoog wat die Weste graag wil skilder.

Enigiemand wat op soek was na ‘n Poetin om die groot kruistog teen die VSA te lei, moet waarlik ná hierdie toespraak teleurgesteld voel.

Rusland vra nederig samewerking – en nie konflik nie – van die VSA en Poetin se visie van die internasionale stelsel kan slegs na dese as ‘n eng konserwatiewe een beskryf word.

Dit loop soos ‘n goue draad deur die toespraak. Sy hunkering is ‘n tipiese konserwatiewe hunkering na stabiliteit asook wantroue teenoor verandering.

Dit is ‘n wens vir ‘n voorspelbare, organiese, reëls-gegronde stelsel waarin die soewereine regte van volke eerbiedig word. Verandering, wanneer dit gebeur, moet bestuur en nooit aangemoedig word nie .

‘n Groot gedeelte van sy toespraak het gehandel oor die verlies aan balans in die internasionale stelsel wat deur die ineenstorting van die Sowjetunie veroorsaak is.

In plaas daarvan om die wanbalans te herstel, is die VSA besig om die chaos wat daaruit voortvloei aan te moedig, het hy gesê. Die Russiese president het die vrees uitgespreek dat daar aanstons nie meer hefbome sal wees om sulke uitgebreide chaos te tem nie.

Poetin het die lysie herhaal: Kosovo, Irak, Afghanistan, Libië, Sirië en nou Oekraïne. Hy het sy gehoor daarop gewys dat nie een van hierdie plekke tans vooruitgang gemaak het of beter daaraan toe is nie.

Hiermee het Poetin die VSA vergelyk  met ‘n pasryk verkwister wat sy meevaller wegdobbel.

Die Russiese leier het ‘n diep verbintenis tot die internasionale reg bevestig, vertolk op die mees konserwatiewe manier waar regsdokumente, hofbeslissings en verdragstekste moet geld.

Met verwysing na die VN en die Internasionale Geregshof se Raadgewende Mening oor Kosovo, het hy die Krim se posisie helder uiteengesit.

Poetin se opleiding as ‘n regsgeleerde kry nooit media-aandag nie, terwyl sy diens in die KGB al is wat lesers ooit vertel word.

Dit is ‘n visie van Rusland wat geanker is in die internasionale stelsel,  en wat poog om die VSA saam met bondgenote soos China en ander BRICS-lande, waar moontlik in toom te hou, van dwaasheid te weerhou binne die raamwerk van internasionale reg, en om die heersende wêreldorde en stabiliteit te waarborg.

Dit is ‘n tipies Europese visie in die tradisie van die negentiende eeu se groot staatsmanne.

Dit is ‘n visie wat uiteraard baie gewild is in Rusland, ‘n land met ‘n lang en bloedige geskiedenis.

Vir ‘n ekonomie wat groei, het Rusland ‘n bestendige en ordelike internasionale omgewing nodig, het die president benadruk.

Poetin het dit duidelik gemaak deur herhaaldelik te fokus op die belangrikheid van ekonomiese ontwikkeling vir Rusland as oorheersende prioriteit vir sy regering, en daarmee sy afkeur vir vergeldingaksies herbevestig.

Wie kan daarvan verskil?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.