Bafana Bafana-doelwagter doodgeskiet

Deel op

Die Bafana Bafana-doelwagter en kaptein, Senzo Meyiwa, 27, is doodgeskiet tydens ‘n rooftog by ‘n huis in Vosloorus, suid van Johannesburg.

Die doelwagter het glo probeer om sy Afro-popsangeres en vriendin Kelly Khumalo, te beskerm.

Volgens die polisie het twee mans die huis binnegeggaan terwyl ‘n derde buite gewag het, en Meyiwa se selfoon geëis.

Gauteng se LUR vir Gemeenskapsveiligheid Sizakele Nkosi-Malubane het die misdaadtoneel waar Meyiwa doodgeskiet is intussen besoek.

Daar was ‘n skermutseling, en skote is afgevuur. Meyiwa het voor Khumalo ingespring om haar te beskerm en hy is in die rug geskiet. Die koeël het deur sy bors getrek.

Die twee mans het te voet gevlug saam met die derde verdagte wat buite die huis gewag het.

Daar was sewe mense in die huis toe die voorval plaasgevind het. Die ander mense is ongedeerd.

Meyiwa is by ‘n Oos-Randse hospitaal dood verklaar. Hy was kaptein van Bafana Bafana tydens die span se laaste vier kragmetings, nadat Ithumeleng Khune beseer is.

Hy was ook die kaptein en doelwagter van die klub Orlando Pirates.

Khumalo is na die voorval gesien waar sy wegry in Meyiwa se BMW onder polisiebegeleiding.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het bevestig dat ‘n beloning van tot R150 000 aangebied word vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die moordenaar van Bafana Bafana en Orlando Pirates se doelwagter.

Die onderonsie het Sondagaand omstreeks 20:00 in Zamo-seksie van Vosloorus plaasgevind.

Dit was die tweede dood van ‘n Suid-Afrikaanse swart sportman binne ‘n kwessie van dae, ná die Olimpiese 800m silwermedaljewenner Mbulaeni Mulaudzi in ‘n motorongeluk Vrydag dood is.

Bafana Bafana het op jongste wêreldranglys van FIFA tien plekke gespring Donderdag om 57ste te wees.

Na oorwinnings oor Soedan en die Kongo, asook gelykopuitslae teen Nigerië en die Kongo, in hul Afrika-beker van Nasies (AFCON) kwalifiseerders, het die span 12 plekke in Afrika opgeskuif.

Die nasionale polisie-kommissaris, Riah Phiyega sal later vanoggend die media in Johannesburg toespreek.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.