Privatiseer staatsgrond om begroting te laat klop: TLU

Deel op

Grond in die staat se hande, is ‘n ongesonde praktyk wat die land en Landbou net skade berokken.

Mnr. Louis Meintjes, TLU SA se President, het gereageer op die bekendmaking van gruwelike verwaarlosing op ’n plaas naby Nigel wat deur die plaaslike owerheid bestuur word. Skynbaar het talle varke en hoenders van dors gevrek terwyl plante in groentetonnels ook van droogte gevrek het. Daarbenewens het dit aan die lig gekom dat die Mamahlola farm naby Tzaneen, wat 10 jaar gelede aan die Banareng Ba-Ga-Letsoalo-gemeenskap gegee is en sedertdien onder administrasie van die regering geplaas is, nie sy werkers kan betaal nie aangesien dit wanbestuur word.

“Dit is ‘n bekende feit dat grond wat in private besit is, oor die algemeen beter bestuur word aangesien dit as deel van ‘n sake-onderneming beskou word wat winsgewend moet wees.

“Waar die staat grond bestuur, moet ‘n amptenaar met geen wesenlike of persoonlike belang die bestuur behartig. Die wins of verlies is nie vir sy eie rekening nie met die gevolg dat dit hom nie werklik raak nie.

“Waar die Minister van Finansies in sy tussentydse begroting aangekondig het dat sekere staatsbates gedeeltelik verkoop gaan word om die staat uit sy finansiële verknorsing te help, is dit onder daardie omstandighede juis nou wenslik om ook staatsgrond te verkoop sodat daar kommersieel op geboer kan word, in plaas dat dit verwaarloos word soos die Spaarwater- en Tzaneen-gevalle, waarin daar boonop R15 miljoen belastinggeld gepomp is (by Spaarwater) sonder ‘n enkele sent opbrengs daaruit,” sê mnr. Meintjes.

Boonop is dit ook so dat heelwat grond wat as gevolg van die restitusieproses van eienaarskap verwissel het, steeds in naam van die Republiek van Suid-Afrika geregistreer is. Daardie grond se titelaktes behoort onverwyld aan die nuwe begunstigdes daarvan oorgedra te word sodat hulle die geleentheid kan kry om voluit kommersieel daarop te produseer. Sonder eiendomsreg op daardie grond, sal die begunstigdes daarvan nooit ten volle suksesvol kan boer aangesien hulle nie toegang tot kapitaal het nie, sê mnr. Meintjes.

“Terselfdertyd moet die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, kennis neem van hierdie verwikkeling. Hier is nie ‘n persepsie van onvermoë nie, hier is die werklikheid van onvermoë, en in dié geval onvermoë van ‘n staatsinstelling wat deur die ANC beheer word.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.