Die voorsitter van die Afrika-Unie Kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma, sê verskeie lidlande het onderneem om gesondheidspersoneel na ebola-geteisterde gebiede te stuur.
Afrika-lande gaan meer as ‘n duisend gesondheidswerkers na Liberië, Sierra Leone en Guinee stuur wat die ergste deur die ebola-virus geraak word.
Sy het nie nadere besonderhede oor die sending gegee nie, maar lande in Oos-Afrika het glo meer as 600 werkers belowe, volgens die AU-voorsitter.
Dlamini-Zuma sê die internasionale gemeenskap het met groter erns op versoeke vir infrastruktuur en gesondheidspersoneel gereageer.
Sy is tans op besoek aan die drie lande wat die ergste onder die virus gebuk gaan.
Byna 5000 mense is reeds in Wes-Afrika aan die siekte dood en meer as 10 000 het die virus opgedoen.
Intussen het Mali sy eerste geval van Ebola bevestig.
Dit is nou die sesde land in Wes-Afrika wat deur die jongste uitbreking van die virus geraak word.
Mali se minister van Gesondheid, Ousmane Kone het op staatstelevisie gesê die pasiënt is ‘n twee-jarige meisie in die westelike dorp Kayes.
Sy is onlangs na Mali gebring van die buurland, Guinee, waar haar ma dood is. Diegene wat in kontak was met die meisie is geïdentifiseer en word gemonitor.