Afrikaans en Europese tale afgeskaf by Universiteit van Kwazulu-Natal

Deel op

Die Universiteit van Kwazulu-Natal het besluit om feitlik alle taaldepartemente behalwe Engels en Zoeloe af te skaf. Afrikaans en Nederlands, Duits en Italiaans sal van aanstaande jaar af nie meer aangebied word nie.

Slegs Frans, wat gedeeltelik deur die Franse regering gesubsidieer word, sal steeds aangebied word, maar dan slegs op een van die twee kampusse, hetsy in Durban, hetsy in Pietermaritzburg.

Hiermee sit die Universiteit van Kwazulu-Natal ‘n neiging voort wat reeds in die vroeë negentigerjare by Wits begin het, toe die Afrikaanse departement aldaar insgelyks gesluit is. Lede van die Afrikaanse departement by Wits, wat hulself as polities “links” gekategoriseer het, het heelhartig daaraan meegewerk en dit selfs versoek.

Tans is dit min of meer dieselfde geval aan die Universiteit van Kwazulu-Natal waar die waarnemende hoof van die Skool vir Kunste, waaronder die taaldepartemente ressorteer, professor Johannes Smit, kennelik ook ‘n Afrikaner is. Hy wou nie met die media oor die besluit praat nie.

Die Natal Witness het verlede maand ook berig dat die musiekdepartement weens ‘n gebrek aan befondsing genoodsaak sal wees om te sluit.

‘n Woordvoerder vir die universiteit, Lesiba Seshoka, sê “die evaluering van modules is ‘n interne aangeleentheid wat wye akademiese raadpleging geniet”.

“Duits, Afrikaans en Italiaans bereik nie die vereiste studentegetalle nie. Ons sal egter aanhou om die diens aan alle studente te lewer wat steeds by ons studeer.

“Soos beste praktyk vereis, sal UKZN aanhou om sy strategiese werksaamhede te hersien om aan studente erkende graadprogramme te lewer.”

Soos ander universiteite in die land, was die Universiteit van Kwazulu-Natal die slagoffer van Kader Asmal se kwaadwillige samesmeltings kort ná die millenniumwisseling. Die universiteit sukkel nog om van sy samesmelting met die voormalige universiteite van Durban-Westville en Natal te herstel.

Die universiteit word sedert die samesmelting deur die Afrikanistiese professor Malegapuru Makgoba geregeer. Hy tree einde vanjaar af, waarna hy deur Albert van Jaarsveld, tans die uitvoerende hoof van die Nasionale Navorsingstigting, vervang sal word.

Die akademici wat deur die sluitings geraak word, is blykbaar teleurgesteld dat dié besluit nie kon wag totdat Van Jaarsveld oorneem nie. Niemand was egter bereid om in die openbaar kommentaar te lewer nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.