‘Ons vir jou’ – ‘n onvergeetlike ervaring

Deel op

Image

Aan die einde van die musiekblyspel oor De la Rey, "Ons vir jou", sit Siener van Rensburg by 'n kampvuurtjie en voorspel dat die Afrikanerfeniks uit die as mag verrys.

Deel op
Die opvoering kry dit omtrent eiehandig reg om twee tot drie dekades van anti-Afrikaanse propaganda wat deur die media oor ons uitgegiet is, skadeloos te stel. Die volgepakte saal in die Staatsteater het ná elke toneel hande geklap of van genoegdoening gefluit.

'Ons vir jou' is politieke en historiese teater uit die boonste rakke. Bertolt Brecht en die Berliner ensemble kan maar hul ou skoene agternagooi. Deon Opperman, Sean Else en Johan Vorster het hier 'n resep vir betrokke teater gevind wat tegelyk subtiel én gewild kan wees. As vermaak en as skouspel ootref dit lag-lag enige Broadway of West End-produksie. Om die hele Tweede Vryheidsoorlog binne twee en 'n half uur op die verhoog te vertel, wil gedoen wees. Maar Opperman en sy span indrukwekkende kunstenaars wat tegelyk sangers en akteurs is, slaag moeiteloos daarin.

Anders as die meeste Engelstalige pogings in Suid-Afrika om die geskiedenis of die politiek op die verhoog te vergestalt, verval hierdie pragstuk met sy sprankelende dialoog en meesleurende voorstelling van De la Rey as oorlogsheld, nooit in karikature nie. Met die moontlike uitsondering van Milner, word al die kakies as mense uitgebeeld. Mens sou nie dink dat soveel karakterisering in 'n musiekblyspel moontlik is nie, maar dit gebeur wel.

Een van die ontroerendste oomblikke in die stuk is waar Meisie in die kollig op die verhoog haar verlange na een van die De la Rey-seuns uitsing, waartydens 'n raam met doringdraad vanuit die dak laat sak word om haar patetiese gevangenskap in die konsentrasiekamp voor te stel. Die stel het gewissel van sulke simbolistiese of effens abstrakte voorstellings tot 'n soort sepierealisme waarmee elke tipe teaterganger kon identifiseer.

Gegewe die verwoesting van die kunsterade onder die ANC-bewind, asook die gebrek aan enige amptelike befondsing vir musiek of teater – behalwe waar dit gaan om korrupte skenkings aan swart dramaturge vanuit die regerende party se dampkring – was dit eenvoudig verstommend om soveel talent op die verhoog te sien. Hier is 'n hele nuwe geslag Afrikaanse sanger-akteurs wat wag om deur die publiek ontdek te word. Soos hul curricila vitae in die program aandui, is hulle almal uitstekend aan ons universiteite in musiek en drama opgelei. Meer as een feniks is hier besig om uit die as te verrys!

Die voorstelling van die slag van Magersfontein is pragtig gedoen en met die klankeffekte en flitsende verhoogligte het mens jou vir oomblikke verbeel dat jy midde-in hierdie veldslag was wat net 30 minute geduur het maar De la Rey se klinkklare oorwinning oor Lord Methuen se veel groter mag bevestig het.

Natuurlik is Johan Vorster se De la Rey-lied wat deur Bok van Blerk beroemd gemaak is, ook gesing, maar nog 'n trefferlied uit die stuk is "Skiet my deur my Afrikanerhart" wat 'n feitlik sterker uitdrukking van Afrikaner-patriotiese hartstog verteenwoordig as die De la Rey-lied self. Opperman het vrylik gebruik gemaak van liggaamshoudings wat deur die militante politieke teater van die Duitse ekspressionisme tydens die Weimar-republiek gewild gemaak is.

Ek het al voorheen gesê dat Suid-Afrika tans sy wanordelike politieke Weimar beleef en moontlik is die opbloei van 'n stuk soos "Ons vir jou" die bevestiging daarvan. Met Afrikanerpatriotisme wat deur die staat en die hoofstroommedia verguis word, het dit sy toevlug tot die internet en die teater geneem.

Die subteks van "Ons vir jou" – wat natuurlik ook onbeskaamd uit die refrein van "Die Stem" afkomstig is – is die Afrikaner se ontredderdheid onder die huidige bestel en sy versugting na 'n leier soos De la Rey wat patrioties, doodsveragtend, moreel onkreukbaar, vaderlik en diep menslik is. Johan Vorster en Bok van Blerk het met hul lied 'n aar raakgeboor, maar dis asof dit maar blote eksplorasie was, want in "Ons vir jou" word die werklike goud eers gelewer.

De la Rey se toespraak op die verhoog waar hy sy manne moed inpraat as hulle kla dat hulle "te min" teen die Engelse oormag is, kan nie anders as om ook in ons huidige politieke konteks met sy klem op simplistiese demokrasie en rassesensusse by die stembus gelees te word nie. Sonder om hoegenaamd die historiese gegewe te verwring of op blatante manier uit te buit – anders as, weereens, ons Engelse linkse vriende wat ons al met hul polities-historiese stereotipes doodgeknuppel het – dra die stuk aan ons oor dat geen volk sonder waagmoed of patriotisme kan voortbestaan nie.

Die tweetalige kêrel van die De la Rey-dogter wie se Engelse afkoms veroorsaak dat hy aan kakiekant beland word voor die verskriklike keuse gestel om sy vriend, De la Rey se oudste seun, in 'n vuurpeleton te moet skiet. Maar ook De la Rey se aanvanklike huiwering om tot die oorlog toe te tree, dra aan ons oor dat oorlog self 'n verskriklike keuse is en dat die prys wat 'n volk uiteindelik betaal altyd hoër is as wat aanvanklik vermoed word.

Onlangs het ek begin dink dat daar tans 'n baie sterker beweging onder die Afrikaners aan die gang is as op enige stadium tydens die twintigste eeu. Dis net: nóg die hoofstroomkoerante of TV, nóg die buiteland stel daarin belang.

Deon Opperman en Sean Else se "Ons vir jou", asook die staande applous van die gehoor na afloop van gisteraand se vertoning het my oortuig dat ek reg is. Myns insiens is daar geen keer meer aan die bruisende gevoel van Afrikanerpatriotisme wat mens deesdae oral teëkom nie. Wat die politieke uitwerking daarvan uiteindelik gaan wees, weet ons nog nie, maar die voortreflike invloed daarvan op Deon Opperman en Sean Else is in die Staatsteater te siene.

Elke Afrikaner het 'n afspraak met "Ons vir jou".

на 100Александр Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.