Swartvlek-kwessie oor SA sitrus na WHO

Deel op

Die krisis wat die EU oor swartvlek by SA se sitrus veroorsaak het, is op hoë vlak met die WHO opgeneem.

Sitrusboere het die stap van die Departement van Handel en Nywerheid verwelkom om die swartvlekkwessie na die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) te neem, maar gesê ander EU-kanale moet ook oop bly.

Mnr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, het die kwessie met die sanitêre en fitosanitêre komitee van die WHO opgeneem omdat die Europese Unie dreig om te weier dat sitrusvrugte uit Suid-Afrika die gebied binnekom omdat hulle glo bang is dat die siekte na boorde in die gebied oorgedra kan word.

Davies meen dat die EU se standpunt daarop gemik is om sy lidlande te beskerm deur hoogs mededingende sitrus uit Suid-Afrika te beperk, eerder as wat die unie oor plantgesondheid besorg is.

Hy sê wetenskaplike kennis ondersteun nie die EU se aantyging dat swartvleksiekte Europese boorde kan besmet nie. Volgens hom het die EU ‘n voorstel van Suid-Afrika om die EU in verskillende sones te verdeel en strenger regulasies in te stel vir sitrus wat na sitrusproduserende gebiede in die suide van Europa uitgevoer word, geïgnoreer.

Mnr. Pieter Nortjé, voorsitter van die sitrusprodusentevereniging (CGA), sê hulle verwelkom die stap, maar meen dat die aangeleentheid dalk uitgeklaar kan word vóórdat dit na die WHO gaan. “Daar is reeds gunstige verwikkelinge deurdat Europa ‘n onafhanklike paneel van kundiges saamgeroep het om die feite oor swartvlek om ‘n tafel te bespreek. Indien dit in ons guns afloop, sal die saak nié voor ‘n paneel van die WHO hoef te dien nie.”

Hy glo dat die deurlopende inligting wat hulle aan die Departement van Handel en Nywerheid deurgegee het, verseker het dat die minister baie goed ingelig is oor die aangeleentheid.

Nortjé sê gevestigde en nuwe sitrusprodusente is onder geweldige finansiële, operasionele en administratiewe druk om simptoomvrye vrugte te lewer. “Die sitrusbedryf se koste uit eie sak was vanjaar byna R1 miljard. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye is onder net soveel druk om die proses te administreer.”

Tog is dit nie net slegte nuus nie. “Die goeie wat hieruit ontstaan het, is dat die sitrusbedryf en Departement van Landbou mekaar gevind en bygestaan het sodat ons nou net ‘n sterker uitvoerder gaan word.”

Bron: landbou.com

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.