Swart boere waarsku minister, Absa prys grondbeleid

Deel op

Swart boere het gevra dat grond slegs toegewys word aan nuwe swart boere wat die vermoë het om dit te gebruik.

Die president van die swart boerevereniging, Mzamo Mlengana, sê die minister van Grondhervorming, Gugile Nkwinti, moet sorg dat maatstawwe in plek is vir die keuring van nuwe boere.

Mlengana sê sonder boerderykennis, strek só ‘n grondbegunstigde tot nadeel van die landbou en skep dit die indruk dat swart boere nie kan boer nie.

Mlengana sê ‘n goeddeurdagte grondherverdelingsproses sal voedselsekuriteit verseker en tot voordeel van die land wees.

Die “hand van vriendskap en samewerking deur mnr. Gugile Nkwinti is dié geleentheid van ‘n leeftyd vir die landbou”, sê mnr. Ernst Janovsky, hoof van Absa AgriBesigheid.

Janovsky het Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, by Agri SA se kongres geprys.

Hy het by die kongresdinee gesê die “oorlog” is verby. “’n Wit vlag is gehys wat sê kom ons werk saam en hierdie samewerking moet vir ons die pad vorentoe baan. Ek wil elkeen uitdaag om dit môre op jul plase te begin toepas.”

Hy het verwys na Nkwinti se opmerkings dat hy in sy skik is met die vordering wat Agri SA met hervormingsplanne maak. Hy het gesê hy is verleë dat hy nie daarvan bewus was nie.

Janovsky sê banke kan baat by grondhervorming en meer winsgewend wees. “Hierdie moet nie ’n meulsteun om jou nek wees nie. Hierdie is die geleentheid waarvoor almal gewag het. As jy kyk na hoeveel kos in die volgende 40 of 50 jaar geproduseer moet word, is hierdie die grootste enkele geleentheid wat nog binne Suid-Afrikaanse landbou bestaan het.

“Die Minister het gesê die planne het verander en júlle planne lyk beter as myne. Dit is ’n groot verandering. Moet nie daardie geleentheid laat verbygaan nie, al gaan dit nie maanskyn en rose wees nie. Daar is staatsdepartemente wat nog nie ingekoop het by dit wat gebeur het nie. Van die banke se kant af sal ons julle help bemagtig om die pad vorentoe te stap.”

Janovsky het boere gemaan om nie geleentheid te laat verbygaan nie: “Moet nie dat dit by julle verbygaan of toelaat dat klein jakkalsies die skape opvreet nie. Dit is ’n geleentheid om aan te gryp.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.