Britse koerant suig Zuma-kritiek teen Oscar uit hul duim

Deel op

Die Britse koerant, The Guardian, het dié week voorgegee dat hulle ‘n eksklusiewe onderhoud met president Jacob Zuma gevoer het, maar dit blyk ‘n versinsel te wees.

Die president het glo nie enige onderhoud toegestaan aan die koerant in verband met die Oscar Pistorius-verhoor of enige ander kwessie nie.

“‘n Joernalis van die Guardian het die indruk geskep dat hy die afgelope week ʼn eksklusiewe onderhoud met die president gevoer het oor die Pistorius-saak,” het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, in ʼn verklaring gesê.

Maharaj sê die verslaggewer het oor ‘n byeenkoms betreffende mediavryheid tydens ʼn informele netwerksessie wat Sondag gehou is, berig.

Die Guardian het voorgegee dat Zuma Oscar se regspan gekritiseer het nadat hulle aangevoer het dat hul kliënt Pistorius nie tronkstraf behoort te kry nie omdat hy gestremd is en “baie geld het”.

Pistorius se prokureurs het ter versagting getuienis gebring oor Suid-Afrikaanse tronke wat nie behoorlik na gestremde mense kan omsien nie omdat die storte byvoorbeeld nie handrelings het nie.

Die Paralimpiese atleet het intussen sy eerste nag in sy sel in die hospitaalvleuel van die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria deurgebring.

Hy is gister tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan strafbare manslag.

In die hospitaalvleuel is daar 24 uur permanente toesig en twee verpleegsters voltyds aan diens.

Die gevangenis se kommissaris, Zebilon Monama, sê hy is deur ‘n kapelaan en ‘n sielkundige besoek. Monama sê Pistorius is in ‘n enkelsel geplaas weens sy kwesbaarheid.

‘n Woordvoerder van Korrektiewe Dienste, Manelisi Wolela, sê Pistorius word saam met nog agt gestremde oortreders aangehou.

Die Departement van Korrektiewe Dienste sê intussen geen spesiale maatreëls sal getref word om Pistorius se veiligheid in die tronk te verseker nie.

Dit volg na vroeëre beweerde doodsdreigemente van bendelede in die tronk.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.