Die merkwaardige tog van genl J.C.G. Kemp

Deel op

Image

Rebelleleier J.C.G. Kemp

Generaal J.C.G. Kemp en sy 600 manskappe se tog deur die Kalahariwoestyn kan seker as een van die fassinerendste hoofstukke in ons geskiedenis beskou word.

Generaal Louis Botha se 1914-besluit om die destydse Duits-Suidwes-Afrika binne te val op bevel van die Britse regering het die gevoelens onder Afrikaners hoog laat loop. Baie mense kon hulle nie versoen met die idee om oorlog te maak saam met hulle gewese vyande teen ‘n land (Duitsland) wat hulle eintlik goed gesind was nie.

Die dood van generaal Koos de la Rey in die Langlaagte-hinderlaag op 15 September 1914 was ‘n groot slag vir Afrikaners wat verward gevoel het en op die wyse generaal staatgemaak het vir leiding in ‘n moeilike tyd van broedertwis.
Deel op

Op 7 Oktober 1914 het generaal Manie Maritz, wat uit protes uit die weermag bedank het, in Ukamas met die Duitse owerheid begin onderhandel om wapens te bekom ten einde Engeland te beveg en die Boererepublieke se onafhanklikheid terug te wen.

Op 12 Oktober het Botha se regering krygswet afgekondig om te verhoed dat generaal Maritz se protes meer mense beïnvloed. Tien dae later het Afrikanerleiers wat beswaard gevoel het oor die koers wat die regering ingeslaan het, in Koppies bymekaargekom. ‘n Plan van aksie is hier uitgewerk. Generaal Christiaan Beyers sou die protes in die Transvaal koördineer. Generaal Christiaan de Wet sou ‘n paar kommando’s in die Vrystaat agterlaat en met die res van sy manskappe langs die suidelike oewer van die Oranjerivier opruk en met Maritz kontak maak. Generaal Kemp sou met ‘n kommando uit die Transvaal al langs die noordelike oewer van die Oranjerivier trek om De Wet by Maritz te ontmoet.  Van daar sou hy en De Wet na die Transvaal en die Vrystaat terugkeer met wapens en ammunisie wat van die Duitsers bekom is.

Op 27 Oktober het Isak Claasen namens generaal Kemp ‘n byeenkoms in Hakboslaagte gereël waarheen almal in die omgewing wat ontevrede met die regering se beplande inval in Duits-Suidwes-Afrika was, genooi is. Die skriftelike oproep het soos volg gelui: “Blijde Boodschap. Bekstop en gadskop is nou op een end. Ik kommandeer allen naar Hakboslaagte, perd, zaal en toom, mondprovisie voor 8 dagen. Geen geheim meer. Kemp is in onze midden.”

Op 2 November het 610 man by Vleeskraal naby Schweizer-Reneke besluit om Kemp te volg na generaal Manie Maritz naby die Duits-Suidwes-Afrika-grens. Kemp wou nie die tog sonder Siener van Rensburg aanpak nie. Siener, wat oor geweldige aansien in die Wes-Transvaal beskik het, het ook die manne by Vleeskraal toegespreek. Volgens hom het hulle niks te vrees gehad nie. Hulle sou veilig terugkeer, want hy het hoefmerke in die modder gesien. Hy het ook gesien dat die Botha-regering na Vereeniging vlug.

Steun vir die rebelle het gegroei aangesien die regering besef het dat nie genoeg vrywilligers vir die inval in Duits-Suidwes-Afrika gevind kon word nie en dat hulle verplig was om onwilliges op te roep. In Schweizer-Reneke self het die getalle van Kemp se manne tot 1 800 gegroei, maar Kemp het uiteindelik besluit om net 720 man saam te neem. Sy kommando moes bloot “‘n vlieënde kolonne” wees. Die manne wat Kemp vergesel het, was nie ‘n klomp avonturiers nie, maar hoofsaaklik boere van die Wes-Transvaal wat hulle vryheid wou terugkry.

Op 30 November is generaal de Wet, wat met ‘n berede kommando die grens van Duits-Suidwes-Afrika probeer bereik het, deur ‘n kavalkade van 110 motorvoertuie vasgekeer en gevang. Die rebelle is ‘n verdere slag toegedien toe generaal Beyers op 8 Desember 1914 deur regeringsmagte by die Vaalrivier vasgekeer is. In sy poging om die rivier oor te steek, het hy verdrink. ‘n Nadoodse ondersoek het bevind dat hy aan hartverlamming dood is.

Intussen het Kemp en sy manskappe vasberade voortgetrek in die rigting van Duits-Suidwes-Afrika. Hulle is deur die droë Langeberg deur regeringsmagte agtervolg en in die Kalahariwoestyn ingedwing, waar hulle erg gely het. Oral langs die Oranjerivier was daar regeringstroepe wat op hulle geskiet het, sodat hulle nie naby die rivier kon kom nie. Water het ‘n geweldige probleem geword. Baie perde het tydens die tog gevrek en die manskappe moes begin loop. Skaars sewentien dae nadat die tog begin het, was daar reeds geen weiding meer vir die osse, muile en perde nie. Teen 20 November was meer as ‘n derde van die kommandolede al voetgangers. Die vuurwarm sand het die mans se voete laat swel, het blare op die sole veroorsaak en die vel het dan afgeskuur. Baie het hulle skoene heeltemal deurgeloop. Wanneer hulle die nat vel van ‘n pas geslagte bees in die hande kon kry, het hulle skoene daaruit geprakseer. Sodra die vel egter begin hard word het, het dit die vel geskaaf en moes hulle dit weggooi. Hulle gefolterde voete het ‘n bloedspoor in die woestyn agtergelaat. Geleidelik het hulle ook van hulle besittings ontslae begin raak, want hulle kon dit eenvoudig nie meer dra nie. Die mans was voortdurend honger, want die slagosse was uitgeslag en die meel op. Die dors was egter die ergste. Hulle het meesal water by windpompe met klein dammetjies en panne gedrink. Dikwels is die water reeds deur die perde besoedel, want die reël was dat die diere eerste moes drink. Kemp het opdrag gegee dat die enigste motor van die kommando, wat later deur osse getrek is, se verkoelerwater afgetap moes word vir die dorstiges.

Dit is ongelooflik hoe hierdie swak bewapende en uitgeputte rebelle nogtans daarin geslaag het om telkens die regeringstroepe terug te dryf of te ontwyk. 

Siener van Rensburg het ‘n groot rol tydens die tog gespeel, al was Kemp met tyd geïrriteerd met Oom Klasie (soos hy hom genoem het) se invloed op die kommando. Hy was oortuig dat God hom gestuur het om die rebelle van raad te bedien. Hy was ‘n eenvoudige boer, met net genoeg skoling om die Bybel te kon lees. Die manskappe se geloof in sy visioene was een van die redes waarom hulle in ongelooflik moeilike omstandighede steeds bly volhard het.

Nog ‘n persoon wat ‘n baie belangrike rol gespeel het, was Cornelius van Rooyen, wat die Kalahari uitstekend geken het en as spoorsnyer en gids opgetree het.  Hy was van onskatbare waarde vir die kommando om water te vind tydens die woestyntog. Daar was ‘n hegte band tussen hom en Siener en hulle het mekaar voortdurend geraadpleeg. Die verkennerskorps van die kommando het verder ‘n groot rol gespeel om Kemp op die hoogte te bring van die regeringsmagte se bewegings.

Die tog het oor 800 km gestrek en het 22 dae lank geduur. Toe hulle op 29 November 1914 deur Maritz aan die Duitse kant van die grens ontmoet is, was hulle in ‘n gehawende toestand. 50 Rebelle moes in die hospitaal by Ukamas opgeneem word. Generaal Maritz het die volgende opgemerk: “Wie kan die lyding beskrywe van daardie mense? Wat het hulle nie deur moes staan nie? … Manne sowel as offisiers was in ‘n akelige toestand.”

Op 3 Februarie 1915 het hulle uiteindelik naby Upington oorgegee: Kemp met 530 man en Maritz met 700 man. Generaal Maritz het besluit om self nie oor te gee nie en na Duits-Suidwes-Afrika uit te wyk. Terwyl generaal Kemp ernstig siek was aan swartwaterkoors, het Maritz soos volg van sy manskappe afskeid geneem: “ Dit is vir my hartbrekend om van julle afskeid te neem, van my dapper boerseuns, maar julle kan trots wees op julleself. Julle het die Botha-regering ‘n harde knou toegedien. Generaal Botha sal ook bly wees om van julle ontslae te wees. Nou kyk, seuns, julle pak al die skuld op my, alles wat hulle julle vra, sê julle dat Maritz julle verlei het. Ek sal sorg dat Botha my nie in die hande kry nie …” Nadat hy deur Angola na Portugal uitgewyk het, is hy met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1923 verhoor en drie jaar gevangenisstraf opgelê. Hy is egter kort daarna in 1924 vrygelaat.

Van al die rebelleleiers is Kemp die swaarste straf opgelê, naamlik ‘n boete van 1000 pond en gevangenisstraf van sewe jaar. Hy is op 22 November 1916 vrygelaat.

Met erkenning aan Generaal J.C.G. Kemp en die epiese woestyntog van M.C.E van Schoor, Protea Boekhuis, 2006

детские игрушки харьковДанильченко Юрий прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.