Vyf jaar vir Oscar Pistorius

Deel op

Die paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, is vir vyf jaar tronk toe gestuur.

Hy het Dinsdag sy vonnis gehoor nadat hy vroeër skuldig bevind is aan strafbare manslag na die skietdood van sy vriendin.

Regter Thokozile Mazipa het Pistorius tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir die dood van Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2014.

Hy is voorts tot drie jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar gevonnis vir die oortreding van die wapenwet. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Die vonnisoplegging het meer as ‘n uur geduur.

Regter Masipa het die verskillende vonnis-moontlikhede oorweeg en ‘n uiteensetting gegee.

Die belange van die gemeenskap, die erns van die misdaad en die persoonlike omstandighede van Pistorius is volgens die regter in aanmerking geneem.

Pistorius sal waarskynlik tien maande gevangenisstraf in die Kgosi Mampuru gevangenis in Pretoria uitdien voordat hy vir parool in aanmerking kom.

Volgens Artikel 276 van die Strafproseswet, kan ‘n sesde van ‘n gevangenistermyn omgeskakel word huisarres as die vonnis nie meer as vyf jaar is nie.

Regter Masipa het met haar vonnisoplegging gesê ‘n opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig sou nie ‘n gepaste vonnis wees nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag sê intussen die NVG het nog nie besluit of hy gaan appelleer teen Pistorius se skuldigbevinding aan strafbare manslag nie.

Die regsverteenwoordiger van die Steenkamp-gesin, Dup de Bruyn het na die vonnisoplegging gesê die reg het geseëvier en die regte vonnis is opgelê.

Pistorius is na die hofverrigtinge in ‘n gepantserde voertuig na die gevangenis geneem.

Die atleet se loopbaan is waarskynlik verby aangesien hy nie toegelaat sal word om aan die 2016 Paralimpiese Spele deel te neem nie, selfs al word hy vroeër uit die tronk vrygelaat.

Die Internasionale Paralimpiese Komitee sê hy sal verbied word om aan enige van hulle byeenkomste deel te neem vir die volle vyf jaar wat sy vonnis is.

Die verbod sal steeds geld selfs al word hy vroeër vrygelaat onder huisarres of op volle parool.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.