‘PW het niks vir eie gewin gedoen nie’

Deel op

Oudpres. PW Botha het geweier dat belastinggeld vermors word om ’n ondergrondse bunker by sy aftreehuis in Wildernis te bou.

Barbara Botha, sy weduwee, het pres. Jacob Zuma se bewering dat die staat destyds die lughawe in George gebou het omdat Botha daar gewoon het, as snert afgemaak.

Botha se weduwee het aan Media24 vertel dat daar planne opgetrek was om ‘n bunker by Die Anker, die Bothas se aftreehuis in Wildernis, in te rig as ‘n veiligheidsmaatreël.

“Hulle het gesê die departement is besig om ondergrondse kamers by verskeie BBP’s se huise regoor die land in te rig, maar PW het net geweier. Hy het gesê dit is ’n mors van geld,” het sy gesê.

Botha het Die Anker eers in die laat sewentigs gekoop ná die besluit om die lughawe te bou, reeds geneem is.

Vandag gebruik meer as 560 000 passasiers jaarliks die lughawe.

“PW het niks vir eie gewin gedoen nie,” het sy weduwee ontstoke gesê.

Luidens die Hansard het Lourens Muller, destydse minister van vervoer, op 8 Februarie 1977 in ’n parlementêre antwoord gesê die lughawe word gebou deur die Suid-Afrikaanse lugmag, die departement van openbare werke en die departement van vervoer “vir die verskaffing van ’n meer gereelde en gerieflike lugdiens tussen gemeenskappe in die Suid-Westelike distrikte en die res van die Republiek asook vir strategiese verdedigingsdoeleindes.”

Die regering in Maart 1973 besluit om die lughawe te bou en dit is in Junie 1977 voltooi.

Daar is oorweeg om die lughawe in Oudtshoorn te bou, maar “uit ’n praktiese en veiligheidsoogpunt” is daar op George besluit, het Muller gesê.

Frans Swarts (94), SAL-hoof toe die lughawe gebou is, het aan Media24 gesê vlugte het destyds gesukkel met weerstoestande in Kaapstad en kon weens lae wolke nie in Kaapstad land nie. Daar was nie vandag se moderne toerusting om sulke hindernisse te oorkom nie.

Vlugte moes noodgedwonge dan in Bloemfontein land en dus was die lughawe in die Suid-Kaap ‘n noodsaaklikheid om ’n alternatiewe landingsplek te hê wanneer Kaapstad nie beskikbaar was nie.

Hennie Smit, wat van 1981 tot 1983 LPR vir George was en later vir Botha as LV vir George opgevolg het, het gesê daar was geen druk van Botha se kant om die lughawe te bou nie.

“Inteendeel, hy (Botha) het destyds ’n onafhanklike komitee aangestel om te kyk waar die beste plek is om die lughawe te bou. Daar is gekyk na Mosselbaai, ­George en Oudtshoorn. Verskeie faktore, waaronder veiligheidsoorwegings en weersomstandighede, is in ag geneem.”

Volgens Smit wou Botha gehad het dat die lughawe na die destydse minister van vervoer, Louw­rens Muller, vernoem word.

Nkandla is ’n privaatwoning en die lughawe is in staatsbesit, het kritici gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.