Moontlike einde vir poskantoorstaking?

Deel op

Gisteraand was Suid-Afrika veronderstel om te hoor of die Poskantoorstaking gaan eindig, maar daar is nog geen nuus oor die moontlike ooreenkoms wat die minister van telekommunisie en poswese, Siyabonga Cwele, aan die bestuur en stakende werkers sou voorlê nie. Blykbaar word die uitvoerende bestuur in briewe gevra om te bedank aangesien hulle vir die langdurige staking geblameer word.

NUUT!
SA Post Office
‘Ons lewer af, wat dit ook al verg’: die Poskantoor se ironiese leuse

Daarmee saam is daar sprake van wanbestuur, waaronder bewerings van bedrog en nepotisme, wat die getransformeerde poskantoor reeds jare lank teister. Tot vandeesweek het vakbonde gekla dat die bestuur nie met hulle wil onderhandel nie; vandaar die staking wat deur die grootste van drie organisasies, die Kommunikasiewerkersvakbond, uitgeroep is.

Dit was dieselfde vakbond wat drie jaar gelede versoek het dat die openbare beskermer ‘n ondersoek doen na beweerde wanbestuur, bedrog en nepotisme by die SAPK wat tot R2,1 miljard kan bedra. Dit het gekom ná jare van klagtes dat die bestuur personeel deur verwante of “vriendelike” arbeidsmakelaars huur, teen salarisse wat hoër is as dié van permanente personeel.

Weens ‘n gebrek aan kapasiteit, is die openbare beskermer se ondersoek egter gesubkontrakteer na ‘n buite-instelling en toe dit voorgelê is, het “die standaard van die ondersoek veel te wense oorgelaat”. “Ons sukkel al lank hiermee,” sê die Kommunikasiewerkersvakbond se algemene sekretaris, Aubrey Tshabalala. Die vakbond wil hê dat strafregtelike klagtes teen die bestuur ingestel moet word indien die verslag die vakbond se besware sou staaf.

Die Kommunikasiewerkersvakbond word hierin deur die Suid-Afrikaanse Poswerkersvakbond gesteun. Dié vakbond se werkers neem nie aan die staking deel nie, maar ondersteun eersgenoemde se aantygings dat die SAPK vrot van die vermorsing, wanbestuur en waarskynlike bedrog is.

Vanweë ‘n gebrek aan finansiële middele, waarvoor Tshabalala “geheel en al die bestuur verantwoordelik hou”, word die loonaanbod aan die SAPK-werkers blykbaar vanjaar tot 6,5% beperk. Daar is egter ‘n belofte van ‘n verdere verhoging teen Januarie, “indien sake sou stabiliseer”.

‘n Kwessie waaroor die vakbonde reeds koning kraai, is die verbod op arbeidsmakelaars om voortaan langtermynwerkers aan die poskantoor te lewer.

Sien ook: Stakende poswerkers saai verwoesting (foto’s)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.