Nigerië sloer met kerkrampslagoffers se oorskot

Deel op

Die Sinagogekerk van Alle Nasies het belowe dat die repatriasie van die liggame van Suid-Afrikaners wat verlede maand dood is toe ‘n gastehuis in Lagos ineengestort het, binnekort sal wees.

‘n Woordvoerder van die kerk, Bally Chuene, sê hulle was in verbinding met die Suid-Afrikaanse en Nigeriese regerings en Nigerië is in kennis gestel van die dringendheid van die kwessie.

Chuene het gesê die oorskot van die slagoffers sal eersdaags na Suid-Afrika teruggestuur word, maar hy het geen datum gegee nie.

Hy het gesê die regerings sal die datums aankondig. Die liggame van die slagoffers word nie in ‘n verkoelde lykshuis gehou nie.

Meer as 80 Suid-Afrikaners is in die tragedie dood, maar eindelose vertragings met die identifisering van die liggame verhoed dat die repatriasie afgehandel word.

Twee afsonderlike prosesse vir die uitkenning van slagoffers word deur Suid-Afrikaanse en Nigeriese amptenare bestuur.

Suid-Afrikaanse amptenare is egter nie bereid om hulle tot ‘n datum vir die terugbring van die liggame te verbind nie.

Die Suid-Afrikaanse Hoëkommissaris in Nigerië, Lulu Mnguni, het belowe dat dit binnekort sal wees.

Die Lugmag sal die oorskot glo in Lagos gaan haal en terugbring na Suid-Afrika.

Families van die slagoffers het ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse en Nigeriese owerhede gedoen om die repatriasie van die liggame te bespoedig, aangesien hulle reeds begin het om vir die begrafnisse voor te berei.

Die vertraging het die begrafniskostes laat styg wat tot ontvredenheid onder familielede gelei het.

Nigerië, sowel as die Suid-Afrikaanse regering het gesê hulle hoop dat dit in die nabye toekoms sal plaasvind.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.