Rooi Oktober is toe ‘n Bruinvis

Deel op

Die herrie herinner aan die spanning uit die laaste jare van die Koue Oorlog, toe die Sweedse vloot gereeld jag gemaak het op verdagte duikbote in hul territoriale waters en kennelik het Swede vasgehaak op die tema.

Die afgelope drie dae al gons dit oor ‘n beweerde Russiese duikboot wat glo ‘n noodsein uitgestuur het in Sweedse waters, kompleet soos in ‘n nuwe Rooi Oktober-fiksie.

Die Telegraph in Brittanje het probeer om die gerugte as feite aan te bied deur verdere spekulasie oor ‘n komende “kernoorlog” wat kan uitbreek, in die jongste kwalik bedekte anti-Russiese koors.

In Oktober 1981 het ‘n Russiese duikboot in die buurt van Karlskrona, nie ver van ‘n belangrike vlootbasis nie gestrand, wat ‘n diplomatieke voorval veroorsaak het.

Maar die geheimsinnige duikboot waarna al drie dae gesoek word in Sweedse waters is moontlik die Nederlandse duikboot, Zr. Ms. Bruinvis, volgens Ria Novosti.

Die Ministerie van Verdediging in Den Haag het bevestig dat die Nederlandse duikboot wél in die betrokke gebied is.

“Ten einde die spanning in die Oossee te verminder en nie langer geld te vermors van die Sweedse belastingbetalers nie [met die soektogte], beveel ons aan dat die Nederlandse marine om opheldering gevra word,” het ‘n bron binne die Ministerie van Verdediging in Moskou gesê.

Vrydag het die Sweedse koerant die Aftonbladet ook berig dat die geheimsinnige duikboot een van die Nederlandse vloot sou wees.

Volgens die Ministerie van Verdediging in Den Haag is die Zr. Ms. Bruinvis sedert 11 Oktober uit op ‘n oefening in die gebied, saam met ander Nederlandse vlootvaartuie en dié van die Sweedse vloot.

Die Sweedse vloot soek al sedert Vrydag met helikopters en oorlogskepe na “buitelandse onderwateraktiwiteit” nadat ‘n noodoproep in Russies gerig was aan ‘n basis in Kaliningrad, het die Svenska Dagbladet berig. Meer as 200 troepe neem aan die operasie deel.

Maar ‘n woordvoerder van die Sweedse vloot wou nie bevestig of ontken dat daar na ‘n Russiese duikboot gesoek word in die eilandgebied van die kus van Stockholm nie.

Die Kremlin het die spekulasie met afwysing begroet. “Daar was geen enkele buitengewone situasie gewees nie, laat staan nog ​​’n noodgeval, waarby Russiese militêre vaartuie betrokke was.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.