Paryse opera weier om verder te sing weens versluierde Moslemvrou in gehoor

Deel op

‘n Vrou in ‘n nikab, ‘n tradisionele Moslemsluier wat die hele hoof bedek, is vroeër vandeesmaand gevra om die Bastille-operahuis in Parys te verlaat omdat die geselskap weier om verder voor haar te sing. Die dra van ‘n sluier wat die gesig heeltemal bedek, word deur wetgewing in Frankryk verbied.

Die voorval het op 3 Oktober tydens ‘n aanbieding van Verdi se La Traviata plaasgevind, volgends die operahuis se adjunkdirekteur, Jean-Philippe Thiellay, maar het eers oor die pas afgelope naweek in die Franse media rugbaar geraak.

'n Nikab
‘n Nikab

Die vrou en haar metgesel was toeriste van een van die Golfstate en het reg agter die dirigent gesit waar hulle vir opsigters sigbaar was. Die sitplekke kos €231 (ongeveer R3 400) elk.

Die vrou het ‘n nikab aangehad, ‘n sluier wat sowel die gesig as die hare bedek en slegs die oë en ‘n deel van die voorkop sigbaar laat.

Die operahuis se personeel het haar nie aanvanklik opgemerk toe sy die ouditorium binnekom nie. Maar volgens Thiellay is hy tydens die tweede bedryf van die opera “deur ‘n sanger in kennis gestel”, wat haar in die voorste ry raakgesien het.

Die Bastille-opera in Parys
Die Bastille-opera in Parys

“Sommige kunstenaars wou nie langer sing nie,” het hy bygevoeg. Volgens ‘n koerantberig wou die geselskap nie langer voor ‘n gesiglose gehoorlid optree nie.

Tydens die pouse is die vrou en haar metgesel deur ‘n inspekteur gekonfronteer, wat haar gevra het om óf haar sluier af te haal, óf die vertoning te verlaat.

“Hy (die inspekteur) het dit aan haar oorgedra dat daar in Frankryk ‘n verbod op dié soort kleredrag geld, en haar gevra om óf haar gesig te ontbloot óf die vertrek te verlaat. Die man het die vrou gevra om op te staan en hulle het vertrek,” sê Thiellay. Volgens hom “was dit onaangenaam om iemand te vra om te gaan”.

“Maar daar was ‘n misverstand oor die aard van die wet en die dame is gevra om dit te eerbiedig of te gaan,” sê hy.

Volgens ‘n bron van die Bastille-opera, het die paartjie nie op terugbetaling aangedring nie.

Frankryk het in 2011 ‘n wet gemaak wat wesentlik die dra van die nikab in die openbaar verbied. Dit sluit openbare strate, winkels, museums, openbare vervoer en parke in. Die verbod geld ook op die boerka, ‘n volledige liggaamsbedekking, indien dit die gesig bedek. Die enigste uitsondering vir ‘n vrou in ‘n nikab of boerka is as sy in ‘n private motor reis of ‘n Moslem-erediens bywoon.

Diegene wat verseg om hul sluiers te verwyder, moet ‘n boete van €150 (R2  250) betaal.

Die wetgewing het egter nie die dra van die hijabhoofbedekking verbied nie.

Ná die operavoorval het die Franse kultuurministerie aangekondig dat hulle ‘n nuwe stel reëls optrek aangaande sluiers in teaters, museums en ander openbare instellings.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.