‘San-gemeenskap moet beskerm word’

Deel op

Die raad van die San-gemeenskap in samewerking met die Werksgroep vir Inheemse Minderhede in Suider-Afrika (Wimsa) het ‘n pamflet oor San-kinders se reg tot onderwys bekend gestel, het die Republikein berig.

Die pamflet getiteld “Inclusive Education for San Children in Namibia” is in samewerking met die Finse ambassade onderneem wat die projek geborg het.

Die saakgelastigde van die Finse ambassade, me. Anne Saloranta, het gesê die doel van die insluitende onderwysprojek wat hulle borg, is om die gaping tussen beleid en realiteit te vernou. Saloranta het gesê vanweë die verskil in taal en kultuur bestaan ’n groter kans dat San-leerlinge die skool sal verlaat voor hulle graad 12 voltooi het. Dit maak hulle meer weerloos vir maat­skaplike uitsluiting.

“Ekstra ondersteuning en sorg is nodig om die kinders te help en hul skoolbywoning te fasiliteer,” meen Saloranta.
Die pamflet verduidelik onder meer wie die San-raad is wat ook na onderwys vir San-kinders omsien. Dit bevat ook inligting aangaande voor­skrifte oor onderwys in die Grondwet, beleidrigtings oor onderwys vir gemarginaliseerde gemeenskappe en internasionale onderwysooreenkomste. Volgens Saloranta is dit belangrik dat gemeen­skappe die belangrikheid van onderwys verstaan sodat kinders die nodige ondersteuning kry om klasse by te woon.

“Opgeleide lede van die San-gemeenskap kan as rolmodelle optree en ’n positiewe voorbeeld stel deur te wys wat kan gebeur as jy jou opvoeding met erns bejeën,” meen sy.

’n Student aan die Universiteit van Namibië, me. Elsarien Katiti, het gesê ’n veilige omgewing waarin skole bygewoon kan word, is ’n kwessie wat aandag moet geniet.

Volgens haar is daar mense wat vir San-leeringe lag en spot, omdat dié kinders ’n kultuur het wat die wat spot nie verstaan nie. Katiti meen sulke voorvalle belemmer “die veilige omgewing” en kan tot skoolverlating lei.

“Ons moet kinders leer om vir hulself lief te wees en selfrespek te hê. Dit maak dit moeiliker vir ander mense om te oordeel,” het sy gesê.

Volgens Katiti word nie genoeg voorspraak vir die San-gemeenskap gedoen nie.

“Baie mense weet nie dat daar verskillende groepe en tale in die San-gemeenskap is nie. Dit is nie hulle skuld nie, want daar moet meer opvoeding gedoen word.”

Katiti is voorts van mening kinders moet geleer word daar is niks daarmee verkeerd om van ander mense te verskil nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.