Afkophoenderbeskawing

Deel op

Soos met ander begrippe, (Calvinisme byvoorbeeld), word die begrip « feodaal » en » feodalisme » nogal los en vas rondgegooi. Dit word veral problematies wanneer die lewenswyse en sosiale patroon van die Afrika mens as « feodaal » beskryf word, want raakpunte tussen die Afrika patroon en die Europese feodalisme is daar werklik net nie. Maar vir diegene wat steeds meen daar is ooreenkoms tussen die Afrika samelewing en die Europese feodalisme, net die volgende paar gedagtes :

Feodalisme dui op die sosiale en politieke ordening van die samelewing gedurende die Europese Middeleeue. Die Middeleeue strek rofweg vanaf die val van die Wes-Romeinse Ryk in die 5e eeu tot met die aanvang van die Renaissance in die 15e eeu. Die hoogtepunt van die Middeleeuse Europese beskawing is bereik gedurende die periode vanaf die 9e tot die 15e eeu.

Sy-aansig van die Nôtre Dame
Sy-aansig van die Nôtre Dame

Die middeleeue het in die eerste plek argitektuur opgelewer wat haas ongeëwenaar is in die wêreldgeskiedenis. Ons dink hier veral aan die Gotiese katedrale wat in dié tyd oral in Europa opgerig is en wat hulle gelyke in terme van skoonheid en tegniese vaardigheid nie ken nie. Enkele van die meer bekende voorbeelde is die Nôtre Dame in Parys, Westminsterabdy in Engeland, die katedrale van Keulen en van Milaan en Chartres, ens., ens., ens. Dosyne en dosyne meesterstukke. En dan die asemrowende Sainte Chapelle, opgerig in die dertiende eeu deur die kruisvaarderkoning, Saint Louis.

Indruk van die interieur van die Sainte Chapelle
Indruk van die interieur van die Sainte Chapelle

Nie net argitektuur was ‘n kenmerk van die Middeleeue nie, maar ook borduurwerk, tapiserieë, porseleinwerk, die wonderbaarlike geïllustreerde manuskripte, mosaïeke, digters, ( Dante, Petrarca, Chaucer, die Troebadoers, die Minnesangers, ens.), filosowe ( Thomas Aquinas, Willem van Ockham, Averroës), beeldhouers (Donatello), skilders,(Giotto) en die pragtige tradisie van onbegeleide (a capella) koorsang.

'n Voorbeeld van 'n Middeleeuse mosaïek
‘n Voorbeeld van ‘n Middeleeuse mosaïek

Die Middeleeue is inderdaad ‘n universum eerder as ‘n periode in die geskiedenis. Dink maar net, die Middeleeue beslaan die helfte van die tydperk sedert die geboorte van Christus tot vandag toe. Tien eeue van geduldige, toegewyde en volgehoue arbeid en skeppende aktiwiteit. En hoewel daar op sosiale en staatkundige gebied beperkte mobiliteit was, was daar op kulturele en kunsgebied voortdurend ontwikkeling en verryking, dus alles behalwe die statiese en uitsiglose geskiedenis van Afrika.

'n Bladsy uit een van die derduisende geïllustreerde Middeleeuse manuskripte
‘n Bladsy uit een van die derduisende geïllustreerde Middeleeuse manuskripte

Elke lid van die feodale stelsel het van geslag tot geslag die rol vervul wat met sy spesifieke plek in die samelewing ooreengestem het, ‘n rol wat oor eeue heen weinig verander het. Hierdie strakke hiërargiese struktuur was op ‘n langtermynsiening van die lewe ingestel wat ‘n teelaarde was vir die daarstelling van een van die grootse hoogtepunte in ons beskawing. Die beskrywing « donker »  Middeleeue  om hierdie tydperk te tipeer, kan nie verder van die waarheid wees nie. Inteendeel is hierdie periode gekenmerk deur ‘n onvergelyklike rykdom van kulturele en artistieke prestasies.

'n Toneel uit die 70-meter-lange tapisserie wat die verowering van Engeland deur  Willem die Veroweraar in 1066 uitbeeld. Die tapisserie is enkele jare na die Normandiese inval voltooi. Die Noormanne (Normands) was ten tye van die inval volledig verfrans, vandaar ook die reuse-invloed van Frans op die Engelse taal.
‘n Toneel uit die 70-meter-lange tapisserie wat die verowering van Engeland deur Willem die Veroweraar in 1066 uitbeeld. Die tapisserie is enkele jare na die Normandiese inval voltooi. Die Noormanne (Normands) was ten tye van die inval volledig verfrans, vandaar ook die reuse-invloed van Frans op die Engelse taal.

Ook die reëls van ‘n beskaafde lewenswyse is ontleen aan die Middeleeue, die heraldiek, goeie maniere, etiket en hoflikheid. Die woord « hoflik » kom trouens van die hof van ‘n koning of ‘n edelman. m.a.w. hoflik is die manier waarop ‘n mens jou gedra het aan die hof van ‘n aristokraat. Maar hierdie reëls het ook veel meer omvat nl. eerlikheid, dapperheid, getrouheid, lojaliteit, pligsgetrouheid, idealisme, eer en eergevoel, en Christelike waardes in die algemeen – al daardie dinge wat in die « nuwe » Suid-Afrika en die aanloop daartoe met minagting in die slopsemmer gegooi is. Om vandag te praat van getrouheid of lojaliteit of integriteit is om uitgelag te word.

Die Middeleeue het natuurlik ook sy skadukante gehad, om by die Inkwisisie maar te begin. Skadukante is nou eenmaal deel van die menslike psige. (Joseph Conrad se « Heart of Darkness ».)

En dan, natuurlik het ander periodes in die geskiedenis nie juis ‘n tekort aan duisterhede gehad nie. Dink maar net aan die twintigste eeu. En dít sonder die kulturele prestasies.

Ten spyte van die tekortkominge het die Europese feodale stelsel ‘n onwrikbare sin gehad vir wat ‘n betekenisvolle en doelgerigte samelewing was – die lyfeiene was trou verskuldig aan sy heer en die edelman aan die koning en die koning aan God. Hierdie patroon is vir ‘n duisend jaar nooit bevraagteken nie. Vandag is so ‘n beskouing natuurlik ondenkbaar. Maar dan, aan die ander kant, is die samelewing waarin ons vandag leef, veel beter? Sekerlik is dit anders: ‘n afkophoenderbeskawing wat nie weet waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie, wat in niks meer glo nie en wat aan niks meer waarde heg nie behalwe vir ‘n paar ideologiese obsessies wat hom net verder en verder die verderf inhelp.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.