‘n Kortbegrip van ons jong demokrasie

Deel op

Soos sy mede-Dakar-ganger Theuns Eloff is die historikus Hermann Giliomee sy vroeëre oorverligtheid kwyt. Dit is nie bloot die verloop van die jare sedert 1988 wat albei wyser gemaak het nie, maar veral die lesse geleer uit dure ondervinding sedert ons “bevryding” twintig jaar gelede. Ek het egter groot waardering vir die wyse waarop Giliomee vir Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch in die bres getree het. In ‘n toespraak op 8 deser het Giliomee met ‘n kortbegrip van ons geskiedenis oor die laaste vyftig jare vorendag gekom (Maroelamedia, 13 deser), grootliks gebaseer op sy boek, Die laaste Afrikanerleiers (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 460p).

Ek gaan nie veel uitwei oor die voor-De Klerk-era nie. Giliomee verkwalik HF Verwoerd omdat hy nie rasseklassifikasie uitgefaseer het nie. Hy beweer dit is eers in die jare negentig gedoen. Die waarheid is dat rasseklassifikasie toe oënskynlik afgeskaf is, maar sedertdien ten koste van veral blankes en ten gunste van veral swartes seker meer as ooit toegepas is. “Nie-rassigheid is heeltemal gediskrediteer deur die ANC self.”

Die dwaasheid van die aanvaarding van die Wiehahn-verslag (1982) tydens die bewind van PW Botha word uitgewys. “Daar was min besef van [hierdie] groot historiese les: om vakbondregte voor politieke regte te gee, is erg destabiliserend en sal ‘n land lank kortwiek in sy ekonomiese groei. Dit strem die ekonomie nou nog.” “Strem”? Dalk eerder: ruïneer.

Dopper en Anglikaan deel 'n oomblik saam
Dopper en Anglikaan deel ‘n oomblik saam

Ek wil my veral bepaal by die bodemlose dwaasheid wat die FW de Klerk-era gekenmerk het, maar let daarop dat ek Giliomee se opmerkings voorts met my eie aanvul (of aandik). Ek skryf dus na aanleiding van Giliomee se toespraak, maar ek herhaal nie bloot klakkeloos wat hy gesê het nie. Volgens De Klerk was dit in sy tyd wat ons veelgeprese grondwet beslag gekry en hy met heroïse staatsmanskap ‘n burgeroorlog voorkom het. Op grond hiervan verwag hy steeds ongekwalifiseerde verering, nie net van die swartes wat hy so buitensporig ter wille was nie, maar ook van die blankes; selfs van die Afrikaners.

Giliomee wys daarop dat PW Botha nie so dwaas soos De Klerk sou wees om te ontwapen voordat bevredigend met die vyand onderhandel is nie. De Klerk het militêre uitgawes besnoei en diensplig ingekort. “Hy wou daarmee die sein gee dat die staat nie wil veg nie.” Die ANC het dus beheer oor die swart woongebiede verkry. Die gevolg was: “Die militêr-sterker party se wil om te veg, kwyn en die siening kry in hul geledere [die] oorhand dat omdat [die] stryd immoreel is, is dit ook ‘n verlore stryd.” Geen daadwerklike poging is aangewend om die fundamentele immoraliteit van die ANC, bv sy verslaafdheid aan geweld, waaronder terrorisme, uit te wys nie. As rassediskriminasie die morele hoofbeswaar teen apartheid is, waarom is rassediskriminasie nie summier in die nuwe grondwet verbied nie? Pleks daarvan tier erge rassediskriminasie in die nuwe Suid-Afrika voort, maar die moraliste verkies om dit te ignoreer.

Dit is bekend dat De Klerk aanvanklik wou hê dat die ANC geweld moet afsweer en dat kommuniste nie aan die onderhandelings deelneem nie. Die ANC het hierdie versoeke geweier en De Klerk het in albei gevalle toegegee. Eensydige toegewings het deurgaans sy onderhandelingstrategie gekenmerk. De Klerk was bekend met die algemeen aanvaarde standpunt dat daar nie met terroriste onderhandel word nie. Hy het besluit om hierdie sinvolle raad te ignoreer. Die gevolg was dat wanneer die ANC nie dadelik sy sin gekry het nie, Nelson Mandela en sy dissipels De Klerk telkens met die hervatting van “die gewapende stryd” afgedreig en tot verdere toegewings verplig het. Op hierdie manier is die “vreedsame” oorgang na “ons jong demokrasie” bewerkstellig. De Klerk het hom ingewurm in ‘n verloor-verloorsituasie.

Die ANC-onderhandelaars is deur talle buitelandse kundiges gerugsteun. De Klerk was dwaas genoeg om net op mede-Nasionale Party-kornuite te steun. Giliomee stel die aanwesigheid van ‘n “beskermende buitelandse moondheid” as ‘n voorwaarde vir die suksesvolle afdwing van ‘n politieke skikking. “Die VSA speel hierdie rol in Israel en Westminster (Londen) in die geval van Noord-Ierland.” Tans verkrag die ANC-regering die letter en gees van De Klerk se naïewe onderhandelings na willekeur en daar is geen buitelandse moondheid wat hom hieroor verknies nie.

‘n Tweede voorwaarde vir voortbestaan is dat wanneer die tradisionele maatskaplike orde revolusionêr omvergewerp word, soos wat De Klerk bewerkstellig het, die skikking daarvoor voorsiening moet maak dat kernwaardes wat eie aan ‘n kultuur is na die oorgang in die nuwe bedeling onderskraag word, bv minderheidsregte (insluitende vetoregte), blanke selfbeskikking, Afrikanernasionalisme en Afrikaans; ook vrywaring teen vervolging. Nie ‘n enkele een van hierdie items is doeltreffend in die grondwet of in sy vertolking en toepassing verskans nie. “Minderhede in SA kan moeilik die mas opkom sonder ‘n ideologie en sonder ‘n grondwet wat vir die land geskik is.” Vir die ANC gaan dit om swartmag en Afrika-nasionalisme en nie om ‘n liberale demokrasie nie. “Ons Grondwet is besig om ‘n kwynende vyeblaar te word.”

‘n Derde voorwaarde vir voortbestaan is dat politieke leiers “aan hul volgelinge genoeg inligting verskaf om ‘n ingeligte en oorwoë besluit te neem wanneer hulle gevra word om groot leiersbesluite te bekragtig. In die geval van Noord-Ierland is die krities belangrike referendum in 1998 gehou nadat die volle grondwet bekend gemaak is.” Wat het in Suid-Afrika gebeur? Voor die 1992-referendum is magsdeling en eie woonbuurte, eie skole, werksekuriteit (“niemand sal sy werk verloor nie”), eiendomsregte (“boere, julle kaart en transport is veilig”), ens, aan die blankes belowe. Geen nuwe grondwet het toe bestaan nie, maar De Klerk het plegtig belowe dat die blanke kiesers in ‘n opvolg-referendum uitspraak oor die uitkoms van sy grondwetlike onderhandelings sou kon lewer.

Hierdie belofte is nooit gestand gedoen nie. Om hierdie rede is sowel die grondwet as die ANC-bewind myns insiens streng gesproke onwettig. Ten spyte van De Klerk se gegorrel oor “wigte en teenwigte” het die beloofde magsdeling algehele oorgawe aan swartmag geblyk te wees. “Uiteindelik was daar geen magsdeling en wigte en teenwigte soos die NP beloof het nie.” Die grondwet het eers later sy beslag gekry en die blanke kiesers het geen vetoreg of ander beheer daaroor gehad nie. “Die NP het sy band met die kiesers verbreek (‘n mens kan dit ook sterker stel).” Daarom sê ek: Die blankes en hulle nageslag is per slot van sake deur De Klerk en ‘n klein groepie NP-kornuite uit ‘n potensieel blink toekoms verneuk.

Giliomee vestig ook die aandag op die dwaasheid van De Klerk om net (onbekwame) NP-koukuslede by die onderhandelings te betrek en nie iemand soos Johan Liebenberg van die Kamer van Mynwese nie, wat reeds bewys het dat hy suksesvol met ‘n element soos Cyril Ramaphosa kragte kan meet. Die NP se onderhandelingspan (bv Roelf Meyer, Leon Wessels en skrumskakel Dawie de Villiers) was man vir man nie naasteby opgewasse teen die ANC se onderhandelaars (bv Ramaphosa, Joe Slovo en Mac Maharaj) nie. Danksy hulle toegeeflikheid en ANC-lojaliteit word van hierdie destydse NP-ampsdraers deesdae deur die ANC-regering by staatsprojekte betrek. Meyer doen hoogs lonende ondersoekwerk vir die Departement van Verdediging en Wessels is ruim vergoed vir die skade wat hy blankes en Afrikaans op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit aangedoen het. Vir De Villiers kon daar egter selfs in die geledere van getransformeerde rugby skynbaar nie ‘n taak gevind word nie.

‘n Ietwat onverwagte kompliment word deur die eens oorverligte Giliomee aan sy destydse teenstanders, naamlik verkrampte akademici, gegee: “Die meer rasionele faksie onder regses in [die] 1980’s het ‘n veel meer realistiese verwagting gehad van hoe die land vandag onder die ANC-bewind sou lyk.” Verligte akademici wou “aan die regte kant van die geskiedenis” wees. “Dit is iets wat enige persoon wat iets van die geskiedenis weet, met groot agterdog moet bejeen.” Dink in hierdie verband aan ‘n geval soos Willie Esterhuyse en hedendaagse kommentators soos Anton van Niekerk, Piet Croucamp en Pierre de Vos. Daar is ook joernaliste soos Max du Preez en Adriaan Basson en ‘n motiveringspreker soos JP (Silwerrandjie) Landman. Dit is klaarblyklik lonend om eerder optimisties as pessimisties te wees, al verkrag ‘n mens die waarheid in hierdie proses.

De Klerk se ideaal was ‘n nie-kommunistiese en vreedsame nuwe Suid-Afrika. Wat het hy bereik? ‘n Land wat sedert 1994 nog nie ‘n nie-kommunistiese staatshoof gehad het nie; om van ‘n anti-kommunistiese president nie te praat nie. ‘n Vreedsame samelewing ontwyk ons meer as ooit tevore. Byvoorbeeld, voorheen was winkelsentrums die toonbeelde van Europese beskawing en die teenpool van lokasies. Nou is winkelsentrums daagliks die toneel van rooftogte. In (feitlik) elke opsig het De Klerk se inisiatiewe klaaglik misluk.

In die kommentaar op Giliomee se gepubliseerde toespraak wys die lesers telkens op De Klerk se verraad; dat hy die blanke kiesers mislei het. “Hy is ore aangesit deur twee bosvegters.” “Die Afrikaner het, met die begeleiding van hierdie man, homself verloën. En nou betaal sy kinders vir sy bespotlike strewe na gewildheid.” As ek die blankes en veral die Afrikaners aangedoen het wat De Klerk teen ruim betaling vermag het, sou ek nooit weer in die openbaar verskyn het of aandag op myself probeer vestig het nie. Ek sou myself nooit kon vergewe nie. My eie mense, my kultuurgroep, verdien beter. Ek sou dit sekerlik onmoontlik gevind het om my lewe voort te sit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.