Agri SA en Nkwinti is dit roerend eens oor grondhervorming

Deel op

Agri SA en Gugile Nkwinti, die minister van landelike ontwikkeling en grondsake het mekaar gister gevind toe Agri SA grondhervorming heelhartig omhels het. Trouens, Nkwinti was selfs onkant gevang deur die mate waartoe die boere bereid is om die ANC se grondhervormingsplanne deur te voer.

Volgens berigte het Nkwinti sy voorbereide toespraak “opsy geskuif” en gesê:

Johannes Möller, voorsitter van Agri SA
Johannes Möller, voorsitter van Agri SA

“Ek het hierheen gekom  om julle te oortuig om in te koop in die program van grondhervorming. Noudat ek gehoor het hoe ver julle beplanning al gevorder het, skaam ek my. Ek het niks om vir julle te sê nie.”

”Julle maak my dag. Hierdie is nie politieke praatjies nie, dit is eerlik. Daar is net een ding waaroor ek met julle kan baklei. Hoekom doen julle dit nou eers?”

Nkwinti het gepraat pas ná Agri SA se voorsitter, mnr. Johannes Möller, sy organisasie se “rigtinggewende beginsels en voorstelle” oor grondhervorming bekendgestel het. Ook me. Sandy la Marque, die sameroeper van Agri SA se Tegniese Taakspan oor Grondhervorming, het ’n aanbieding daaroor gedoen.

Möller het gesê dat Agri SA ‘n “holistiese benadering” voorstel waarmee elke grondhervormingsprojek op eie meriete beoordeel sal word.

“Voorstelle vir grondhervorming moet boere en landelike bewoners bemagtig om hulle eie toekoms te bepaal,” meen Möller. “Dit moet lei tot die verbreding van die aantal persone uit voorheen benadeelde gemeenskappe wat eiendomsreg van landbougrond het en bydra tot die voorsiening in die groeiende vraag na voedsel.”

Die Oos-Kaap moet as model vir grondhervorming dien, het Möller voorgestel. Daar werk kommersiële boere en “ontwikkelende boere” in die wol- en pynappelbedrywe saam. Kommersiële skaapboere het beter skeerlokale vir die ontwikkelende boere help finansier en sodoende die waarde van hul wol verhoog. Insgelyks het pynappelboere finansiering vir kommunale boere bekom.

In reaksie het Kkwinti voorgestel dat Agri SA en die departement van grondsake saamwerk om meer blanke boere deur swart boere te vervang, soos wat die ANC se Nasionale Ontwikkelingsplan vereis.

“Die belangrike aspek van hierdie pragtige plan is dat dit uiteensit hoe ons die mense wat op die land bly, se maatskaplike toestande gaan verbeter,” het Nkwinti gesê. “Ek het baie waardering daarvoor want ek weet dit kon nie vir Agri SA maklik gewees het nie, want Agri SA is, soos die ANC, ’n huis met vele kamers.”

Die hele Agri SA-kongres het gestem ten gunste van “volhoubare” grondhervormingsplanne.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.