Ons gee nie om vir die publiek nie, s? polisie

Image“Geen polisielid sal sy werk verloor met die veranderings wat in werking gestel word nie.”

Met dié een sinnetjie van direkteur Sally de Beer, vertel die regering vir ons dat hulle nie ons belange as burgers op die hart dra nie, maar eerder dié van die kriminele elemente in die land.

Direkteur Sally de Beer wys net weer hoe min die land se regering in werklikheid omgee vir die gemiddelde Jan Alleman, wat ook indirek verantwoordelik is vir die pos waarin die dame haarself as ‘n huidig onaantasbare bevind.

Dit is net die jongste in ‘n vlaag aanhoudende en soms lagwekkende stellings wat die polisiebestuur van SA weer gemaak het. Wel, oor die algemeen is hulle in die verkeerde beroep, want die sirkusring sou dalk ‘n beter plek wees vir die klomp narre wat blou uniforms dra. Die verklaring van die adjunkminister van justisie, Johnny de Lange, so ʼn paar weke terug was seker net die inleiding tot die volgende vlaag grappies waarmee hulle nou te voorskyn kom. Die sewepuntplan teen misdaad se volgende episode.

Die herstrukturering van die diens is sekerlik deel van die plan, wat in elk geval gedoem is om te faal indien die wil om ‘n verskil te maak nie met daadwerklike aksie opgevolg word nie. En ek praat nie hier net van herstrukturering van die diens nie, maar van die uitkap van dooie hout. Ek praat van die indiensneming van mense wat verstand het om te dink, mense wat misdaad wil oplos, en nie net lippediens daaraan wy nie.

Indien ek reg gelees het, was daar wel komitees, rade en ander groepe aan die dink (is dit moontlik?) oor sekere dele van die sewepuntplan om misdaad te beveg, maar daar was nog nie sprake daarvan dat sekere dele van die plan reeds redelik ver gevorder was nie.

En skielik kom die direkteur uit met die stukkie nuus, dat sekere dele van die herstrukturering reeds ver gevorder was. Nou begin ek wonder, is die herstrukturering deel van die plan, of maar net nog ‘n aksie om ons te laat dink dat hulle besig is? Die vraag is: besig met wat?

Die herstruktureringsproses behels onder andere dat die vlakke waarin die polisie opgedeel is van vier na drie verminder word. Wat wel belangrik is hier, is dat daar geen poste in die proses verlore sal gaan nie, en daar is gevolglik rimpelings wat wyer kring van daar waar die klippie in die water land. Die eindresultaat is dat die swak polisiemanne wat verplaas word steeds in die diens behou word en dat daardie swak polisiemanne steeds sal aanhou om swak werk te doen. Dit doen die land absoluut geen guns nie, inteendeel, dit maak dat die swakhede net versprei word, om dan deur ander se harde werk gedra te moet word.   

Die feit dat daar jaarliks sowat 11 000 nuwe rekrute opgelei word soos wat in die berig beweer word, is absoluut niksseggend. Wat wel saak maak, is die kwaliteit van die opleiding, en die kwaliteit van die rekrute, nie hoeveel daar opgelei word nie.

Indien die meeste van die rekrute van die swak kaliber is wat ek al gesien het, sal hulle nie vir ‘n oomblik ‘n verskil kan maak om misdaad te verminder soos wat die regering klaarblyklik wil doen nie.

Daar is veel meer wat nodig is in ‘n persoon om ‘n goeie polisieman te wees. Daar is ten minste die vereiste om beide Engels en ‘n ander taal goed vaardig te kan wees. Om nie eers van Afrikaans te praat as die persoon geplaas gaan word in ‘n oorwegende Afrikaanssprekende gemeenskap nie. Daarmee saam is goeie kommunikasievaardighede ook nodig, soos telefoonetiket, die vaardigheid om helder en duidelik te kan praat, om hoflik en behulpsaam te wees.

Die verdere vaardighede is natuurlik die vermoë om behoorlik en noukeurig te kan lees, skryf en ook die aanleg om analities te kan dink. Dit is veral belangrik wanneer die persoon dalk vorentoe die oog vang met moontlike opleiding as speurder of ander spesialis. Dat daar wel swartmense is wat die vermoë het, betwyfel ek nie, maar hulle verteenwoordig ‘n absolute minderheid.       

Ek kan dit dalk so stel. Ek kan 31 mense per dag leer skiet, wat my met 11 315 mense per jaar sal laat, maar dit sal nie maak dat ek aan die einde van ‘n jaar ‘n leër van 11 315 mense het nie. Want buiten die skietkomponent is daar ander faktore wat ook in aanmerking geneem moet word.

Die aanleg en ingesteldheid van die persone is net so belangrik, indien nie meer nie as die vermoë om te kan skiet nie. En dieselfde is van toepassing op die polisieman se beroep. Indien die persoon nie werklik ‘n verskil wil maak en misdaad wil keer nie, help al die opleiding in die wêreld niks nie.

Die nering van polisieman is geen blote werk nie; dis ‘n roeping. Dit is nou as mense daardie roeping volg om misdaad hok te slaan en nie bloot om in sy pos te sit en vegeteer nie.

Die feit dat daar duidelik gestel word dat niemand hulle poste sal verloor nie, spreek boekdele oor die polisie se verbintenis tot die bevegting van misdaad. En wat dit wel sê, is dat die slegte elemente in die mag behou sal word, oneag die uitwerking daarvan.

Die spreekwoord oor een vrot appel wat die res slegmaak, bestaan nie verniet nie. Dit bevat ‘n groot waarheid wat tot vandag toe bly staan. Indien die slegte elemente met hulle kriminele rekords vir allerhande onheilighede in die mag behou word, sal dit baie vinnig die res van die mag deurweek, soos wat kanker in’n liggaam versprei, totdat die hele liggaam siek is en later doodgaan. En daardie verspreiding is reeds sterk op pad om die mag lam te lê.

In hierdie opsig is die herstrukturering ‘n bitter gevaarlike proses. Want pleks daarvan dat die vrot plekke uitgesny word, word dit nou oorgeplant elders op die liggaam, wat beteken dat dit weer wortel skiet en daar verder die siekte van “misdaad in uniform” in die liggaam versprei.

Wat dit verder ‘n absolute klug maak, is dat daar plasingskomitees landwyd in die provinsies sal rondbeweeg en kyk na die behoeftes van stasies. Die vraag is: presies waarna kyk hulle dan, en waarvoor soek hulle ?

Ek dink wat ons wel tot kommer kan stem hier is dat hulle kyk waar daar nog stasies is wat goed werk, waar hulle dan die vrot appels kan plaas, sodat die vrot appels die goeies in die vaatjie ook kan slegmaak.

Die feit dat die skuiwe na gelang van behoeftes aan vaardighede gedoen sal word, sê ook nie veel nie. Die vaardigheidstekort strek dieper en verder as wat die een of ander komitee landswyd in ‘n maand sal kan raaksien.

Dit impliseer dat die reisende sirkus nie net ons belastinggeld gaan mors nie, maar ook beplan om dit vorentoe op ‘n baie groter skaal te doen. Ook sal belastingbetalers moet opdok vir die kostes verbonde aan verhuising en verplasing van beamptes wat nie verskil sal maak in die nuwe plekke wat vir hulle beoog word nie.

Ja, ek is wel bewus van die feit dat “nuwe besems skoon vee”, maar ek het absoluut geen vertroue in die sisteem nie. En ek dink dat ‘n redelike groot meerderheid van my mede-Afrikanerburgers ook geen vertroue in die stelsel koester nie.

Die polisiediens het hom reeds as feilbaar bewys en voordat hulle enigsins vertroue kan inboesem, sal hulle eers vir baie lank moet presteer. Die paar sporadiese gevalle waar die polisie wel sukses behaal, is nie genoeg om te vertroue te herstel nie.

Ek dink ek kan amper sover gaan as om te sê dat dit die regering is wat in ons tronke sit en die vingers klap, waarna die marionette wat in die parlement sit, asook op die presidentstoel net vra hoe hoog daar gespring moet word. Die tronkbevolking wat vonnisse uitdien beskik immers oor meer regte as die res van ons wat nie misdadigers is nie.

Of dit so is, kan mens nie in alle eerlikheid sê nie, maar alle aanduidings bestaan dat daar êrens agter die skerms baie oorleg gepleeg word met misdadigers om seker te maak dat die polisiediens verder in anargie en ondoeltreffendheid verval. Totdat dit later so afgewater gaan wees dat geen polisieman hoegenaamd meer respek sal kan afdwing nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.