Plaasuitsettingsbrandpunte deur ANC ondersoek

Deel op

Plaasuitsettings is ’n menseregtekwessie, sê die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming Gugile Nkwinti en hy gaan ‘n ondersoekspan ontplooi na “brandpunte”.

Nkwinti het gereageer op berigte oor plaasuitsettings in die Wes-Kaap. Hy het aangekondig dat die span die stand van plaasuitsettings in die provinsie sal bepaal.

Die span senior amptenare sal uitsettingsbrandpunte in Suid-Afrika identifiseer. Die Wes-Kaap is een van die brandpunte.

Die onsekerheid oor die Esta-wetgewing (die Wet op die Uitbreiding van Se­kerheid van Verblyfreg) wat strenger verblyfreg vir plaaswerkers voorstel, is glo die wortel van die probleem.

Nkwinti het tydens die parlementêre portefeuljekomitee se vergadering oor landelike ontwikkeling en grondhervorming gesê Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, en No­sey Pieterse, voorsitter van die plaaswerkersvakbond Bawusa het skrywes in dié verband aan hom gerig.

Winde wou volgens Nkwinti bewyse hê van die 247 plaasuitsettings sedert 1 April vanjaar in die Wes-Kaap waarna Mcebisi Skwatsha, adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, drie weke gelede ver­wys het. Skwatsha het toe ook ’n moratorium op uitsettings versoek.

Intussen het Costau boere in die Wes-Kaap gedreig met plaasbesettings. Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse sekretaris van die vakbondfederasie het gesê plase in die provinsie gaan op groot skaal beset word indien boere nie ophou om werkers van plase uit te sit nie.

Dié dreigemente voorspel ‘n herhaling van oproer soos in 2012 toe arbeidskwessies in De Doorns opgevlam het.

Agri Wes-Kaap sê daar is nog nie genoeg inligting oor die uitsettings beskikbaar nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.