Oor Nobelpryse en volksgevoel

Deel op

Een van die aspekte van Suid-Afrika wat seker die meeste uitstaan, is die hoon en smaad wat byna konstant deur Afrikaners ervaar word. Nou die dag skryf iemand vir my dat mnr. Nicky Oppenheimer, die sakeman, tydens ‘n onderhoud aan hom gesê het: “Die Afrikaners se grootste vyande is ander Afrikaners.”

danr2Natuurlik is dit waar. Die ergste anti-Afrikaanse uitsprake word nie deur Britte of Amerikaners, swartes of SA Engelse gemaak nie, maar deur verloopte Afrikaners soos Max du Preez, Pierre de Vos, Wiekus Kotze van die EFF, die skryfster Antjie Krog, die agent Piet Croucamp, asook die Beeld-joernaliste Adriaan Basson en Christi van der Westhuizen.

Geen Afrikaner behalwe FW de Klerk het nog ooit ‘n Nobelprys verower nie en in sy geval was dit geensins verdiend nie. Dit was eerder tekenend van De Klerk se eie Boerehaat en ‘n soort sug na volkselfmoord, want die 70 000 Afrikaners wat sedert 1994 vermoor is, is regstreeks aan sy onbesonne oorgawe te wyte. In elk geval is die Nobelprys vir vrede ‘n mindere, verpolitiseerde prys wat geensins prestasie beloon nie, maar meesal toeval. Die prys vir vrede word volgens die Andy Warhol-beginsel toegeken: “In die toekoms sal elkeen vir 15 minute wêreldberoemd wees.” Toevallig het Warhol dié uitspraak in Stockholm, tuiste van die Nobelpryse, by die Moderna Museet aldaar in 1968 gemaak.

Ook die Franse voel deesdae nie te goed oor hulself nie. Ekonomies gaan dit vrot en die land het sy ou glans verloor. Daarom het die gewilde aanbieder van boekprogramme op televisie, Bernard Pivot, oor vanjaar se toekenning van die Nobelprys vir letterkunde aan die Franse skrywer Patrick Modiano op Twitter gesê:

Overgezet synde: Die Nobelprys vir letterkunde aan Modiano het die Franse se vertroue vir die duur van ‘n naweek herstel.

Hoewel Frankryk insgelyks polities verdeeld is, beskik sowel linkse as regse Franse oor ‘n patriotisme en trots op hul land, geskiedenis, taal, kultuur en letterkunde. Anders as by ons, kom ‘n mens nie die ekwivalent van Boerehaat deur Afrikaners teenoor ander Afrikaners teë nie.

Hoewel die gay skrywer en filosoof, Guy Hocquenghem, hom op ‘n slag as ‘n “Frankofoob” getipeer het, is dit raar om minagting vir Frankryk by Franse teë te kom. Hoe verklaar ‘n mens dus dié verskynsel by Afrikaners?

Aan die een kant is daar die tweetalige gespletenheid van die ou Suid-Afrika, asook die Nat-Sap-verdeling onder Afrikaners. Terwyl die meerderheid Afrikaners nog altyd patrioties teenoor die eie kultuur en groep gestaan het, was daar ‘n taamlik ryk en welvarende pro-Britse groep wat op hul volksgenote neergesien het en eerder Engels wou wees. Niks hiervan het verander nie en dit is ook nie toevallig dat vandag se selfhatende Afrikaners dit een en almal betreur dat hulle nie Engels gebore is nie.

Voeg daarby die identiteitsprobleme van Suid-Afrikaanse Engelse wat ek in my onlangse essay behandel en ons het die resep vir ‘n nasionale uitskelkompetisie waartydens die Kaapse slagspreuk “Jou ma se…” welluidend weerklink.

Suid-Afrika kon so anders gewees het. Pleks van ‘n probleemland, kon ons welvarend, gelukkig, trots en sorgvry gewees het. Dit is egter die lot van alle multinasionale state dat daar wedwywering en veral naywer tussen groepe sal wees, wat weer tot etniese uitbarstings lei. Alles van die afbrand van skole tot nihilistiese, anomiese “popgroepe” soos Die Antwoord of die huidige Dookoom kan hierdeur verklaar word.

Anomie is ‘n begrip wat deur die Franse sosioloog Émile Durkheim bekendgestel is in sy boek Suicide (1897) wat juis oor selfmoord handel. Dit behels ‘n “gebrek of afwysing van waardes en standaarde”. ‘n Toestand van anomie in ‘n maatskappy lei sekerlik ook tot wetteloosheid, iets wat ons toenemend in Suid-Afrika ervaar.

Terwyl Durkheim in anomie iets negatiefs of ongewens gesien het, word anomie en nihilistiese opstand in Suid-Afrika opgehemel. So pas het die Engels-Suid-Afrikaanse skrywer wat in Kanada woon of gewoon het, Richard Poplak, in die Daily Maverick ‘n meningstuk gepubliseer waarin hy juis Dookoom se oproepe in hul kletsryme om boere se plase af te brand, loof. Of ten minste meen Poplak dat, indien Steve Hofmeyr oor die wetlike reg beskik om Die Stem te sing en daarmee “Suid-Afrika se rassewonde oop te steek”, dan beskik Dookoom insgelyks oor so ‘n reg.

Die blote gelykstelling van ‘n patriotiese, suiwer lied soos Die Stem – wat juis die teenoorgestelde van ‘n anomiese boodskap uitdra – met die vernielsug en nihilisme van Dookoom se kletsryme getuig natuurlik van gebrekkige ontleding.

Terwyl Poplak hom iewers in sy rubriek op sy gewese rabbi beroep en daarmee sy Joodsheid openbaar, was dit juis die mededirekteur van die SA Joodse Raad van Afgevaardigdes wat nie te lank gelede nie, verklaar het dat “die anti-apartheidsbeweging deur Boerehaat gekenmerk is”. Daar word gerieflikheidshalwe vergeet hoeveel huise en skole daar al in Suid-Afrika in die naam van “bevryding” afgebrand is, asof anomie ooit deur blote interpretasie verdoesel kan word.

Waarskynlik is daar geen salf aan Suid-Afrika te smeer nie en sal ‘n groot deel van die land se inwoners – ryk en arm, swart, wit of bruin – altyd onvergenoegd en lus om iets te gaan brand, voel. Maar Afrikaners is heeltemal in staat om aan die algemene anomie te ontkom.

Die eerste stap sou wees om soos die Franse ‘n nasietrots te ontwikkel. Eerder: weer terug te vind. Want daar was tye in die verlede toe skrywers en intellektuele soos Van Wyk Louw, D.F. en F.E.J. Malherbe, G.A. Watermeyer, Jan Rabie, J.C. Steyn en ander, asook politieke leiers soos Hertzog, Malan, Strijdom en Verwoerd, onbeskaamd trots was op Afrikaans en Afrikanerskap.

Tans bespeur ‘n mens ook ‘n opwelling van nasionalisme onder Afrikaners, soos veral deur die sing van Die Stem by Steve Hofmeyr se byeenkomste vergestalt word. Ons almal het met Die Stem en vlaghysingseremonies grootgeword. Waar daar egter vir my ‘n gebrek is, is nie soseer aan dié openbare vertoon van volkstrots nie – hoe nodig ons dit ook al tans het! – maar aan ‘n dieper, meer intieme omgang met die Afrikaanse tradisie.

Dis seker nie toevallig dat soveel van die leiers van die vroeë Afrikaanse taalbewegings Franse name en vanne gehad het nie. Toevallig lees ek nou die dag weer ‘n paragraaf in Paul Kruger se biografie raak waar hy en sy geselskap in die 1880’s na Europa gereis het en daar ná Majuba oral soos helde ontvang is. In Amsterdam is Kruger deur duisende mense toegejuig. In Leiden het Oom Paul voor sy studentegehoor van sy ietwat stywe Nederlands na Afrikaans oorgeskakel:

“Volgens ‘n verslaggewer was die man wat, in sy poging om suiwer Nederlands te spreek, hulle tot dusver slegs woorde van goeie bedoeling en weining betekenis hoor spreek het, plotseling ‘getransfigureerd’. Nou eers het die Hollanders ‘n denkbeeld gekry van sy groot invloed op sy landgenote. Die gehoor het spontaan en staande hulde gebring en dit het ‘n tydjie geduur om die orde te herstel.” (Krüger: 332)

In Antwerpen, Vlaandere, het die Transvaalse afvaardiging insgelyks ‘n triomfantelike ontvangs geniet:

Sommige gaste het geween, veral toe ‘n sanger ‘Die Vierkleur van Transvaal’, gedig deur ds. Du Toit en getoonset deur J.S. de Villiers, voorgedra het. Hy is met harpspel begelei en die Vlaminge het dit pragtig gevind en die taal het hulle diep in die warm gemoed gegryp. Ongetwyfeld was die begaafde jong superintendent van onderwys die held van die aand.” (Krüger: 336)

Die sukses van die Afrikaanse beweging in die negentiende en vroeë twintigste eeue was gegrond op ‘n kombinasie van patriotisme en ‘n liefde vir Afrikaans. Die anomie wat Durkheim reeds in die 1890’s in Europa raakgesien het, het nog nie onder Afrikaners bestaan nie. Korreksie: in die 1890’s is die nasionale dag van die ZAR wel ontsier deur dronk Afrikaners wat Engelse spotliedjies gesing het.

Die groot verskil is egter dat anomie tot onlangs nie die botoon in ons land gevoer het nie. Vandag is die “resies na onder”, na platvloersheid, vervreemding, aftakeling en selfmoord, in volle swang.

Ons sal die anomie wat soveel van ons kinders en jongmense ook in sy wurggreep het, moet besweer. Slegs deur die algemene volksgevoel te verander, sal ons daarin slaag.

Niemand gaan ons ‘n Nobelprys daarvoor gee nie, maar om weer die soort aansien en agting te geniet wat Kruger, S.J. du Toit, Leyds en ander meer as honderd jaar gelede in Europa ervaar het, sou vir alle Afrikaners meer as genoeg beloning wees.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.