Tuks-kuierplek gaan wooneenhede word

Deel op

Die gewilde Hatfield Square in Burnettstraat, waar studente reeds vir jare by sy klubs en kroeë saamtrek, sal dalk binnekort sy partytjieskoene vir ‘n residensiële ontwikkeling verruil.

Dié besluit rus glo daarop dat die eienaars van die Hatfield Square, Redefine Properties, eerder behuising aan studente in die omgewing wil bied.

Die hoofbedryfsbeampte van die Hatfield City Improvement District (CID), Danie Basson, sê hoewel die besluit oor wat om met die geboue te doen nog onduidelik is, dui voorlopige inligting daarop dat dit moontlik in ‘n nuwe residensiële ontwikkeling herskep sal word.

“Dit is nog onduidelik of die geboue as sulks in behuising omskep sal word en of dit eers gesloop en herbou sal word,” sê Basson.

Hy meen die ontwikkeling word in die nabye toekoms verwag en eienaars wag glo net vir die laaste oorblywende kontrakhouers se huurkontrakte om te verval voor die ontwikkeling begin.

Basson sê hy het verneem dat kuierplekke soos Dropzone se kontrak aan die einde van November verval en nie weer hernu sal word nie.

“As ander besighede se kontrakte ook binnekort verval, beteken dit dat die ontwikkeling binnekort verwag kan word,” sê Basson.

Die Hatfield Square se terreinbestuurder vir Redefine Properties, Ronelle Domann, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.