Groen-aanbieder verras deur Rwanda

Deel op

Dave Pepler is die aanbieder ‘n natuurprogram Groen, op TV. Hy skryf uit Rwanda:

Hulle president in Rwanda, sê die mense met trots, wil hê hulle moet gesond wees deur baie groente te eet. Geen oorgewigprobleme nie en baie min diabetes.

Geen outomatiese besproeiing, slegs leivore waaruit die kinders ritmies per plastiekemmer die lande natmaak. Reusesakke aartappels word deur kinders van ongeveer 12-14 jaar per fiets mark toe aangery . Jy kan jou oë nie glo nie.

Ons het gemerk dat almal lig oranje “Crocs” dra. Hulle verduidelik hulle president voel as jy skoene aan het, het jy waardigheid. Elke Rwandees wat nie skoene het nie, kry by die regering crocs. Die skoene word dan by plaaslike markte vervang met nuwes teen ’n lae prys.

Ons was die laaste Saterdag van die maand daar. Alle winkels, banke, kafees en net mooi alles is toe . Dit is “we clean our country”- dag. Vanaf die president tot elke kind wat kan, maak skoon, verf huise, vee strate, en ons het mense gesien wat op lang brandweer-tipe lere die lamppale skrop, en mense wat padtekens was. Ons laat ons vertel dat President Kagame en sy seuns saam skoonmaak op straat.

Nie een kind het ooit by ons gebedel nie. Hulle kom nuuskierig nader en vra: “Where are you from? Welcome to Rwanda.” Vra nooit vir iets nie.

Interessant . . . hulle praat sag met mekaar, nooit ’n skreeuery nie. In winkels is gedempte geluide hoorbaar, nooit luid nie.

As die politieke wil daar is, en korrupsie is uitgeroei, is enige iets moontlik.’n Merkwaardige ondervinding.

Pepler is verras deur dié Afrikaland:

Na al die jare ken julle my mos as een van die aarde se mees deurweekte bitterbekke, en ook as uitgesproke sinikus. Ek beskou die meeste mense as reddeloos verlore, oninteressant en gewetenloos, en dit geld veral vir die inwoners van onse kontinent. Bykans elke stad in Afrika is ‘n nagmerrie van besoedeling, onvoltooide projekte, opdrifsels van vuilgoed en lugbesoedeling. Chaotiese verkeer, onpadwaardige voertuie en varkagtige gedrag van bestuurders bevestig elke keer dat hier geen beplanning is nie, dat elke mens eenvoudig net vir homself sorg, en dat omgee vir jou medemens nie meer bestaan nie.

En toe, ‘n paar dae gelede, land ek vir die eerste keer in my lewe met ‘n groepie eko-toeriste van Live the Journey in Kigali, die hoofstad van Rwanda. Toe ons by die lughawe uitry, het dit dadelik doodstil in ons bus geword, en almal het sprakeloos na buite gestaar en eers minute later tot hul sinne gekom. Dis nou drie dae later, en steeds kan my gaste nie uitgepraat raak nie – in die stede, langs die nasionale paaie is daar nie ‘n stukkie papier of rommel te bespeur nie. Net waar jy kyk is daar groot plakkate wat uitroep: Keep our Country Clean! Reg deur die land tel mense rommel op, vee stof en blare op hopies en sny heinings netjies.

Maar dit hou nie by netheid op nie, dis net die begin van een van die mees verrassende en verfrissende sosiale rewolusies wat ek al ooit gesien het. Mens kan jou beswaarlik indink dat, so onlangs soos 1994, Rwanda betrokke was in een van die mees skrikwekkende volksmoorde in die geskiedenis van die mensdom. Die slagting was op ‘n byna ondenkbare skaal en het mens laat dink aan die gruwels van die Middeleeue. Uit die puin van vernietiging en ondenkbare lyding het die leiers van die land besluit om die herstel tot vrede en welvarendheid opnuut aan te pak. Die eerste teiken was korrupsie, en binne twee jaar het hulle dit wortel en tak uitgeroei deur eenvoudig lokvalle vir korrupte amptenary te stel en hul brutaal uit die sisteem te boender.

Die boodskap was klokhelder – indien ons land wil groei met vertroue, moet ons saamstaan teen misbruik en diefstal. Alle motorfiets-bestuurders wat ‘n taxidiens bedryf, dra ‘n veiligheidshelm met ‘n spaarhelm vir die passasier. By taxi-staanplekke staan almal netjies in ‘n ry en wag hul beurt geduldig af. Ek is stomgeslaan oor die orde in hierdie land.

Sodra jy die stad verlaat, sien jy verder tekens van innoverende denke om landbouproduksie op te stoot, mense te laat saamwerk in kooperasies en om die produkte teen regverdige pryse te bemark. Nuwe damme word gebou vir visplase met hoender- en haashokke bo die water. Die mis val in die water, die water word verryk en so word die visse vinniger groter as gevolg van die alge wat in die vrugbare water groei. Daar is byeplase, landerye vol piritieen vir die produksie van organiese en eko-vriendelike insekdoder, en mielielande wat die Vrystaat sal laat bloos.

Hiermee wil ek net dit sê, waar daar ‘n gesonde politieke wil is, is daar ‘n menslike en beskaafde weg. Dit maak my triestig om te sien dat die politieke bestel in Suid Afrika uitsluitlik gefokus is op selfverryking terwyl ons hierdie lieflike voorbeeld aan eie deur het. Ek voorspel dat die geskiedenis ons gaan verdoem en Rwanda gaan verheerlik. Laat die wat oë het om te sien en ore het om te hoor, nou kennis neem van die suksesse van Rwanda.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.