Rooftogte by winkelsentrums styg 142% en polisie is ‘verlore’

Deel op

Korrupsie, wanadministrasie en ‘n gebrek aan inligting kortwiek die stryd teen misdaad, het sprekers gister by ‘n konferensie oor misdaadvoorkoming gesê. Die hoof van die spesiale ondersoekeenheid, adv. Vas Soni, het sover gegaan soos om te vereis dat alle bates wat deur misdadigers verkry word, onteien behoort te word.

Volgens ‘n ander spreker by die konferensie, dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies, het rooftogte by winkelsentrums binne ‘n jaar meer as verdubbel. Trouens, die persentasiestyging in dié misdaadkategorie is ‘n skrikwekkende 142%.

Burger het veral die polisie se misdaadinligtingseenheid gekritiseer vir hul gebrek aan inligting oor dié tipe misdaad: “Sonder intelligensie is ons verlore (by die aanpak van dié misdade), maar ons misdaadintelligensie sukkel. Dit is duidelik dat diewe iets nuuts gekry het om op te fokus.”

Soos wat privaatveiligheidsmaatskappye sekere vorme van misdaad moeiliker maak, verskuif misdaadaktiwiteit na ander terreine.

“Misdadigers kyk na hul risiko’s en kyk waar hulle meer wins kan maak teen minder risiko,” sê dr. Johan Burger. Hy vind die neiging vir misdaad om jaarliks toe te neem “kommerwekkend” en voeg by: “Ons moet bekommerd wees; ons moet antwoorde kry.”

Soni het voorts gesê dat “Suid-Afrikaners ongeduldig is as dit by korrupsie kom”. Sy eenheid is veral betrokke by die bekamping van korrupsie en omkopery.

Hy meen dat wanadministrasie en korrupsie ‘n bedreiging vir demokrasie inhou omdat dit die regstaat ondermyn.

Dit is egter nie meer genoeg om die oortreders van korrupsiewette in die openbaar uit te wys en skaam te maak nie.

“Die afgelope 20 jaar van ons demokrasie het genoegsaam gewys dat dit nie genoeg is om diegene wat van korrupsie verdink word in die openbaar te beskaam nie,” sê Soni

Baie meer as net openbare hoon is nodig. “Ons het ’n skaamtelose geslag geword.”

Die openbare beskermer Thuli Madonsela en Emiritusaartsbiskop Tutu het insgelyks die konferensie toegespreek.

Tutu het die polisie bedank dat hulle hul lewens waag om Suid-Afrikaners te beskerm, terwyl Madonsela ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen het om teen korrupsie te verenig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.